Afrikaans

English

loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-staan-gereed-met-gebalde-vuiste-in-2025

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit staan gereed met gebalde vuiste in 2026!

Beste Solidariteit-ondersteuner

Deur jou lojale ondersteuning aan die Regs- en/of Boufonds het Solidariteit reeds berge versit. Jou bydrae stel ons in staat om aan te hou veg teen:

  • • rassewette;
  • • Bela-wetgewing wat ons kinders se skole bedreig; en
  • • die NGV wat ons gesondheidsorg in Suid-Afrika kan laat inplof.

Met jou bydrae bou ons ook aan die toekoms. Ons bou saam aan opleidingsinstellings, soos Akademia en Sol-Tech, om te verseker dat ons kinders toegang tot gehalteonderrig het.

Ons doen dit alles om vir ons nageslag ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te help verseker.

Soos met ander organisasies word Solidariteit se ondersteunersbydraes jaarliks aangepas. Op 1 Mei 2026 word jou bydrae met slegs 6,8% verhoog.

Ons aanvaar ons ondersteuners se bydraes nie as vanselfsprekend nie. Ons besef ook dat baie mense onder ekonomiese druk verkeer en dat lede uit liefde vir die saak vrywillig tot hierdie fondse bydra om ʼn beter toekoms te help bou. Daarom is dit vir ons belangrik om nie bydraes te verhoog vir lede wat dit nie kan bekostig nie, of wat om welke rede ook al nie hul bydrae wil verhoog nie.

Indien jy van die 6,8%-verhoging vrygestel wil word, voltooi asseblief die vorm hieronder sodat ons jou vrystelling kan verwerk.

Baie dankie vir jou ondersteuning!

Die geveg teen rassewette

Een van Solidariteit se grootste veldtogte is die stryd teen rasseteikens en omgekeerde diskriminasie. Só veg ons vir jou:

  • • Solidariteit se rasseverslag, wat diskriminasie en rassevooroordeel in die arbeidsmark blootlê, is na die Verenigde State van Amerika (VSA) geneem om internasionale bewusmaking te bevorder. Hierdie verslag stel die regering se beleid, wat onregverdig teen minderheidsgroepe diskrimineer, aan die kaak en bevestig dat Solidariteit bereid is om hierdie stryd ook op ʼn internasionale vlak te voer.
  • • Ons skep bewusmaking, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Of dit nou ʼn dokumentêr is oor hoe rassewette gewone Suid-Afrikaners raak, of besoeke aan die Europese Parlement om skrywes in te dien en groter druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas, is dit alles om ongeregtighede aan die groot klok te hang.
  • • Solidariteit staan ook individue by wat slagoffers van onregverdige rassediskriminasie geword het. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die saak van Alwyn Erasmus teen Eskom. Erasmus, ʼn wit man met 30 jaar se ondervinding, is nie vir ʼn bestuurspos by Eskom oorweeg nie bloot weens sy velkleur, ten spyte daarvan dat hy die mees geskikte kandidaat was. Solidariteit het hom in die arbeidshof verteenwoordig, en die hof het beslis dat Eskom se rassebeleid Erasmus se regte geskend het. Erasmus is 18 maande se salaris as vergoeding toegeken. Hierdie uitspraak is ʼn belangrike oorwinning teen onbuigsame regstellende aksie, en Solidariteit beplan verdere stappe om sulke diskriminasie teen te werk.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en raak betrokke by die geveg om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Suid-Afrika te bou!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel