loading
avatar
Artikels
2 weke gelede
miljoene-vir-die-bemarking-van-ngv-maar-geen-teken-van-mediese-sorg

Fotokrediet: Unsplash

Miljoene vir die bemarking van NGV, maar geen teken van mediese sorg

Deur Pieter Jordaan

Die NGV se rekening kom lank voor die mediese verligting wat dit só oneerlik belowe.

Terwyl Suid-Afrikaners nog fluitend-geduldig staan en wag om te hoor hoe op aarde dié stelsel bekostig en bestuur gaan word, word miljoene reeds aan die verkoop daarvan bestee.

News24 se onlangse onthullings oor sowat R182 miljoen wat die gesondheidsdepartement oor twee jaar aan twee reklame-ondernemings betaal het, laat ernstige vrae ontstaan oor die bestuursprioriteite van die NGV-grootkoppe.

Volgens die ondersoek het die kontrakte vir kommunikasie en geleenthede eerstens geen vasgestelde totale waarde gehad nie, en die departement het ondernemings dus bykans met ʼn blanko tjek aangestel.

Die departement se verweer is dat die besteding nie uitsluitlik vir NGV-bemarking was nie, maar ook bewusmaking oor programme soos MIV/vigs, tuberkulose en moeder- en kindergesondheid gedek het. Dié programme moet volgens die departement hul eie bewusmakingsveldtogte finansier.

Niemand betwis dat gesondheidsvoorligting nodig is nie. Maar daar is perke.

Boonop het die ondersoek R52 miljoen verbind aan bemarking met geld wat glo, volgens die state, vir die ontwikkeling van die NGV se betaalmeganisme vir dokters bedoel was.

Dit wek kommer dat geld wat vir die bou van die stelsel bedoel is moontlik reeds aan die bemarking daarvan bestee word. Moet dit nie eers gebou word nie?

Belastingbetalers behoort die kontrakte, fakture en bewyse van gelewerde werk te kan sien. Die departement moet verduidelik wat gelewer is, waarom dit nodig was en hoe die besteding pasiënte bevoordeel het.

Die groter rekening wag egter nog op almal van ons, as hierdie onding nie gestuit word nie.

Volgens ramings waarna Solidariteit verwys, kan die NGV minstens R660 miljard per jaar kos. Dit is ’n raming van die totale jaarlikse koste, nie die bedrag wat alles deur nuwe belasting ingevorder moet word nie. Hoeveel daar uit bestaande begrotings oorgedra sal word en hoeveel bykomende belasting nodig sal wees, bly vrae wat beantwoord moet word.

“Die regering moet wys wat die stelsel gaan kos, waar die geld vandaan kom en wat die belastingbetaler bykomend moet betaal,” sê Theuns du Buisson van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Die befondsing sal heel moontlik moet kom uit betaalstaatbelasting, ’n bobelasting op persoonlike inkomste en die heraanwending van mediesefondsbelastingkrediete.

Werknemers se inkomste en bestaande belastingverligting sal dus deel van die beoogde befondsingsplan wees, terwyl die uiteindelike tariewe onbekend bly.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, lê die afwesigheid van ’n duidelike, volhoubare befondsingsmodel aan die hart van Solidariteit se beswaar oor die NGV.

“Die staat kan nie bestaande toegang tot gesondheidsorg ondermyn sonder om die uitvoerbaarheid daarvan te bewys nie,” sê Van der Bijl.

Die NGV beoog om gesondheidsaankope in ’n enkele staatsfonds saam te trek.

Wanneer die beperking op mediese fondse in werking tree, sal hulle slegs dekking kan bied vir dienste wat die NGV nie vergoed nie. Dit maak die vermoë van die sentrale fonds om behoorlik te funksioneer soveel belangriker.

Vir dokters en praktyke is dié onsekerheid ewe ernstig.

“As betalings vertraag en tariewe onvoldoende is, kom praktyke onder druk. Wanneer kapasiteit verdwyn, is dit die pasiënt wat daarvoor betaal,” waarsku Peirru Marx van Solidariteit se Mediese Beroepsnetwerkgroep.

’n Bestuursprobleem by ’n sentrale fonds kan gevolglik landswyd deur die gesondheidsorgstelsel trek. Ons weet wat hierdie regering van ons met sulke koffers doen.

Solidariteit stel ’n ander benadering voor, maar sien nie ʼn gretigheid by die owerhede om die logika daarvan te oorweeg nie. Die voorstel is inkomstegebaseerde mediesefondsopsies, verpligte lidmaatskap vir werknemers soos in sy alternatiewe voorstel omskryf, en minimum werkgewerbydraes.

“Ons moet bestaande vermoë benut om toegang tot sorg uit te brei,” sê Du Buisson.

Die doel behoort te wees om meer mense toegang tot behandeling te gee en druk op openbare fasiliteite te verminder. Elke rand wat nou aan kommunikasie en bemarking bestee word, moet aan hierdie doelwit gemeet kan word.

Die werklike toets vir ’n gesondheidsdepartement is hoeveel mense behoorlike behandeling kry.

Absoluut niemand word gesond omdat ’n minister se plan mooi op ’n advertensiebord pronk nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel