loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
ngv-pilaar-val-maar-stryd-nie-verby

Foto Krediet: Okay Deer

NGV-pilaar val, maar stryd nie verby

Deur Nico Strydom

Solidariteit se stryd teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) duur voort, met die regering wat steeds vasbeslote blyk te wees om dit te implementeer ondanks ʼn nederlaag in die land se hoogste hof.

Die Konstitusionele Hof het onlangs een van die belangrikste meganismes waarop die NGV steun, ongrondwetlik verklaar.

“Solidariteit het die regering se gewraakte planne om vir dokters voor te skryf waar hulle mag praktiseer in die Konstitusionele Hof gestuit,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit. Die uitspraak is ʼn belangrike oorwinning in die stryd teen die NGV.

In ʼn eenparige uitspraak het die hof artikels 36 tot 40 van die Gesondheidswet ongrondwetlik verklaar. Volgens Hermann is sentrale beplanning die kern van die NGV.

“Die regering wil besluit waar en watter dokter jy mag raadpleeg. Sentraal daartoe is die regering se plan om vir dokters voor te skryf waar hulle mag praktiseer.

“Dit is hierdie planne van die regering om vir dokters voor te skryf waar hulle mag praktiseer, wat Solidariteit suksesvol ongrondwetlik laat verklaar het.

“Die stryd teen die NGV is nie verby nie, maar hierdie is ʼn strategiese oorwinning.”

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, hou egter vol dat die Konstitusionele Hof se uitspraak geen wesenlike uitwerking op die NGV het nie. Die uitspraak lui egter dat die regering self aangevoer het dat die behoeftesertifikate belangrik was en ʼn “sentrale pilaar” is vir die inwerkingstelling van die NGV.

In die hofstukke het die minister en die direkteur-generaal van gesondheid aangevoer dat die behoeftesertifikaat “ʼn sentrale pilaar” van die implementering van die NGV vorm. Ná die uitspraak het die departement egter aangevoer dat die NGV sonder hierdie meganisme kon voortgaan.

Motsoaledi het in ʼn onlangse parlementêre antwoord gesê hoewel die hof se beslissing verskil van die posisie wat deur die staat aangevoer word, die departement die volle implikasies van die uitspraak noukeurig bestudeer om te verseker dat alle toekomstige regulatoriese ingrypings streng ooreenstem met die grondwetlike parameters wat deur die hof uiteengesit is.

Motsoaledi voer aan die behoeftesertifikaat was oorspronklik as ʼn beplanningsinstrument om die ongelyke verspreiding van gesondheidsdienste tussen stedelike en landelike gebiede aan te spreek. Hy sê die staat sal alternatiewe, grondwetlik aanvaarbare beleids- en wetgewende meganismes nastreef om dieselfde doel te bereik.

Motsoaledi het verder ontken dat die regering gesentraliseerde staatsbeheer nastreef en gesê die Grondwet verplig die staat om redelike wetgewende en ander maatreëls te tref om die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste vir alle Suid-Afrikaners progressief te verwesenlik.

Volgens Solidariteit is die kern van die NGV sentrale beplanning en was die behoeftesertifikaat een van die belangrikste meganismes waarmee die regering groter beheer oor die gesondheidsektor wou uitoefen.

Dit sou die staat toenemend die mag gegee het om te bepaal watter gesondheidspraktisyns waar mag praktiseer en watter dienste gelewer mag word. Die behoeftesertifikaat was veel meer as bloot ʼn administratiewe instrument. Dit was ʼn instrument van sentralisering en staatsbeheer.

Solidariteit beklemtoon verder dat die uitspraak groter betekenis inhou vir die stryd teen die NGV en as sterk teenkanting dien teen die grondwetlikheid van staatsentralisering, wat ʼn kernbeginsel van die NGV is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel