Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Hofbevel halt NGV: Solidariteit waarsku teen enige verdere NGV-planne
Enige verdere implementering van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) moet nou kragtens ʼn hofbevel met onmiddellike effek gestaak word.
Só is vandag in die Pretoriase hooggeregshof beslis waar Solidariteit, as een van die partye, ooreengekom het om sy litigasie op ys te plaas, met die voorwaarde dat die inwerkingstelling en verdere ontwikkeling van die NGV summier stop.
Hierdie reëling sal ook van krag bly totdat die Konstitusionele Hof ʼn uitspraak gelewer het oor die rasionaliteit van president Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wet in 2024 te onderteken.
Ramaphosa se regspan het onder druk van Solidariteit en ander tot hierdie ooreenkoms ingestem.
Solidariteit het voorts, nadat die hofbevel vandag uitgereik is, ʼn aanmaning aan die president, die departement van gesondheid, die tesourie en die betrokke ministers gestuur, waarin hulle gewaarsku word teen enige minagting van hierdie NGV-hofbevel.
Geen verdere begrotingstoegewings mag dus nou ten opsigte van die NGV toegestaan word nie en Solidariteit is van voorneme om die regering te dagvaar indien hy nie daaraan gehoor gee nie.
Hierdie toegewings kan veral ter sprake kom tydens die 2026-begrotingsrede wat môre plaasvind.
Solidariteit het nietemin die voorlopige opskorting van die NGV verwelkom.
“Hierdie hofuitspraak is ʼn groot deurbraak in ons stryd teen die NGV. Dit gaan die verstand te bowe dat belastingbetalersgeld hoegenaamd aangewend word om ʼn stelsel op te rig wat sulke uitgebreide litigasie in die gesig staar,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
“Die NGV gaan nooit kán realiseer nie. Dit is eenvoudig onuitvoerbaar, onbekostigbaar en irrasioneel. Dit is diep kommerwekkend dat enigiemand dit as ʼn goeie idee kan beskou en dat daar reeds miljarde rande daaraan spandeer is.
“Tog sou hierdie miljarde rande se kostes net ʼn druppel in die emmer wees vergeleke met die veel groter bedrae en onomkeerbare lewensverlies wat die NGV-stelsel sal meebring sou dit wél geïmplementeer word.”
Solidariteit sal dus met behulp van die hofbevel toesien dat geen verdere fondse vermors word nie en dat werkbare alternatiewe vooropgestel word.
Solidariteit doen juis in sy aanmaning ʼn beroep op hernude en ernstige gesprekke om werkbare alternatiewe tot die NGV te bespreek. Die beste voorkeuruitkoms van sodanige gesprekke sou die aanvaarding van die Healthcare Funding Reform Bill wees – ʼn wetsontwerp wat Solidariteit reeds vroeg in 2025 by die parlement ingedien het.
Du Buisson sê die voorneme om alle implementering te staak moet ook in berekening gebring word wanneer daar oor die toekoms van mediesefondsbelastingkrediete besin word.
“Daar bestaan nou geen rede om dit te skrap nie. Om die waarheid te sê, dit moet verhoog word. Die tesourie het dit sedert 2023 onveranderd gelaat, terwyl mediesefondslede dubbelsyferverhogings in hul premies moet trotseer,” sê Du Buisson.
• Sien aangeheg Solidariteit se aanmaning oor die minagting van die hofbevel hier.
• Klik hier vir Solidariteit se alternatiewe wetsontwerp.
• Klik hier vir Solidariteit se NGV-hofstukke.