Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit tree in ná SAPD gestremde werknemer as onbevoeg beskou
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het ʼn oorwinning namens sy lid, SM Pillay, ʼn geregistreerde gestremde werknemer by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), behaal nadat hy onbillik oor die hoof gesien is vir bevordering.
Pillay het aansoek gedoen vir die pos van kolonel in die afdeling vir sigbare polisiëring en operasies se eenheid vir die nakoming en toepassing van drankwette, en is deur die onderhoudpaneel as die mees geskikte kandidaat aanbeveel. Ten spyte hiervan is hy nie aangestel nie, nadat die afdelingskommissaris aangevoer het dat hy, weens sy gestremdheid, nie die pligte van die pos sou kon uitvoer nie en nie bevoeg is om ʼn vuurwapen te hanteer nie.
Volgens Divan Venter, litigant verbonde aan Solidariteit, is dit duidelik Pillay is ten volle in staat om die pligte van die pos uit te voer en bevoeg om ʼn vuurwapen te hanteer, ongeag sy gestremdheid.
“Die besluit om hom nie aan te stel nie, is daarom nie net onregverdig nie, maar ook onbillik.
“Hier is ʼn werknemer wat reeds 30 jaar lank lojaal in diens van die polisie was sonder enige bekommernis oor tekortkominge. Skielik word hy en sy toegewyde diensrekord egter in twyfel getrek op grond van aannames oor sy vermoëns,” sê Venter.
Solidariteit het die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys as ʼn onbillike arbeidspraktyk. Die kommissaris, Tanya Roberts-Kruger, het ten gunste van Pillay beslis en vier maande se vergoeding aan hom toegeken.
Volgens Venter stuur hierdie uitspraak ʼn duidelike boodskap dat werkgewers nie werknemers op grond van hul gestremdheid mag benadeel nie, veral nie wanneer hul vermoëns reeds objektief bevestig is nie. “Solidariteit sal voortgaan om op te tree teen onbillike arbeidspraktyke en om die regte van sy lede te beskerm.”