loading
Artikels
1 jaar gelede
induksie-die-geheime-wapen-vir-geluk-in-die-werkplek

Foto Krediet: OkayDeer

Induksie: Die geheime wapen vir geluk in die werkplek

Deur Karen Waldeck

Is jou organisasie voorbereid met ʼn induksieprogram om nuwe werknemers in die kultuur en werkprosesse te integreer? As jy nie voorbereid is nie, loop jou organisasie dalk die risiko om waardevolle insette van nuwe werknemers te verloor. ʼn Induksieprogram is nie net ʼn formaliteit nie ­– dit is ʼn geleentheid om ʼn positiewe indruk te skep, betrokkenheid te bevorder en die sukses van nuwe werknemers te verseker. Dit is ʼn geleentheid om die rooi tapyt uit te rol en nuwe werknemers in die span te verwelkom met ʼn deeglike begrip van die organisasie se doelwitte en waardes.

Wat is induksie in die organisasie?

Induksie is soos die rooi tapyt wat uitgerol word vir ʼn nuwe lid van jou span. Dit is ʼn gestruktureerde proses wat nuwe werknemers help om die organisasie se kultuur, waardes, prosesse en verwagtinge te verstaan. Dit is nie net ʼn kans om te wys waar die koffiemasjien is nie, maar ook ʼn geleentheid om ʼn sterk fondasie vir sukses te bou.

Hoekom dit doen?

Die vraag is nie hóékom nie, maar hoekom nié! ʼn Induksieprogram is essensieel om ʼn paar goeie redes. Eerstens, dit help om ʼn positiewe eerste indruk te skep vir nuwe werknemers, wat hulle gevoel van betrokkenheid en verbintenis tot die organisasie kan versterk. Tweedens, dit verminder die tyd wat dit neem vir nuwe werknemers om volledig produktief te word deur hulle ‘n duidelike begrip van die organisasie se doelwitte en prosesse te gee. Laastens, dit verminder personeelomset deur die gevoel van verwelkoming en ondersteuning te verhoog.

Wat behels dit alles?

ʼn Goeie induksieprogram behels ʼn verskeidenheid aktiwiteite en inligting. Dit sluit in ʼn algemene inleiding tot die organisasie se geskiedenis, struktuur en doelwitte; opleiding oor relevante prosesse en beleide; kennismaking met die organisasie se kultuur en waardes; en die geleentheid vir nuwe werknemers om hulle spanlede en sleutelpersoneel te ontmoet. Dit kan ook ʼn besigtiging van die werkplek insluit, asook praktiese opleiding en ondersteuning vir nuwe werknemers se spesifieke rolle.

Wenke vir die opstel van die program

  • Maak dit interaktief en betrokke: Moedig deelname aan en maak die induksieproses ʼn aangename ervaring vir nuwe werknemers.
  • Hou dit relevant: Fokus op die inligting wat nuwe werknemers nodig het om suksesvol te wees in hul rolle.
  • Wees kreatief: Integreer aktiwiteite, speletjies en ander interaktiewe elemente om die induksieproses pret en opwindend te maak.
  • Luister na terugvoer: Vra nuwe werknemers vir hulle menings en terugvoer oor die induksieproses en wees bereid om aanpassings te maak waar nodig.

Meting

Meet die effektiwiteit van jou induksieprogram. Vra nuwe werknemers vir terugvoer oor hulle ervaring en of hulle voel dat hulle voldoende voorbereid is om hulle pligte te vervul. Monitor ook personeelomset om te sien of daar ʼn afname is ná die implementering van die induksieprogram. As jy sien dat dit ʼn positiewe impak het, hou aan daarmee. As daar areas vir verbetering is, wees bereid om aanpassings te maak om die program te verbeter.

ʼn Induksieprogram is nie net iets wat gaaf is om te hê nie; dit is ‘n noodsaaklikheid vir enige organisasie wat suksesvol wil wees. Dit help om nuwe werknemers welkom te laat voel en hulle te ondersteun om produktief te word, en om personeelomset te verminder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel