loading
Artikels
6 uur gelede
werksoek-is-n-spanpoging-gebruik-jou-netwerk

Foto Krediet: OkayDeer

Werksoek is ʼn spanpoging – gebruik jou netwerk

Deur Kyla-Ann du Toit

In vandag se mededingende arbeidsmark is dit nie meer genoeg om bloot ʼn sterk CV te hê nie. Kwalifikasies en ervaring is belangrik, maar die mense rondom jou – jou netwerk en gemeenskap – is dikwels die deurslaggewende faktore in jou werksoekreis. Jou volgende geleentheid lê moontlik nie op ʼn webblad nie, maar eerder in ʼn gesprek met iemand of ʼn aanbeveling van iemand wat jou ken.

Gebruik jou netwerk slim

Jou netwerk is meer waardevol as wat jy dink. Dit sluit jou familie, vriende, voormalige kollegas, studiemaats, lede van jou kerk of sportklub en selfs mense op aanlyn platforms in. Jou netwerk kan jou egter net help as hulle weet jy is op soek na werk. Maak dit dus duidelik dat jy op soek is na werk. Mense wíl help – hulle moet net weet hoe.

Gebruik ook digitale platforms soos LinkedIn en WhatsApp-groepe om jou boodskap verder te versprei. Netwerk met mense in jou bedryf en neem aktief deel aan gesprekke en forums. Solidariteit se werkfasiliteringsplatform is ook ʼn nuttige hulpmiddel, waar jy nie net vir poste kan aansoek doen nie, maar by ʼn beroepsnetwerk kan aansluit wat daarop toegespits is om die spesifieke beroep te beskerm, loopbaangeleenthede vir jong mense te skep, as waghond toesig oor die beroep te hou en met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom. Lees hier meer.

Mentorskap is nóg ʼn kragtige manier om jou netwerk te benut. Binne Solidariteit se netwerk kan jy mentors vind wat jou kan help om jou CV te verbeter, vir onderhoude voor te berei of net leiding te gee. Moenie huiwer om vir leiding te vra nie – mense deel dikwels graag hul kennis. Lees hier meer oor Solidariteit se mentorskapprogram.

Jou netwerk is jou superkrag

Hoewel werksoek dikwels soos ʼn eensame stryd voel, hoef jy dit nie alleen te doen nie. Daar is mense wat omgee – jy moet net jou hand uitsteek. Jou netwerk wíl help, maar hulle kan nie as jy niks sê nie. Jou netwerk kan die sleutel tot jou werksoeksukses wees. Gebruik dit tot jou voordeel!

Solidariteit maak dit vir jou sommer baie maklik om hierdie netwerk te aktiveer. Jy kan jou profiel deel, poste aanstuur en ander help deur hul posadvertensies ook te versprei. Dit is nie net ʼn digitale platform nie – dit is ʼn gemeenskap waar mense mekaar ondersteun en help om hul volle potensiaal te ontwikkel.

Sluit aan by ʼn netwerk wat werk

Of jy nou op soek is na jou eerste werk, jou werk verloor het of gereed is om die volgende stap in jou loopbaan te neem, jou netwerk is jou geheime wapen. Gebruik dit en kyk hoe vinnig deure vir jou sal oopgaan.

Solidariteit se werkfasiliteringsplatform is heeltemal gratis. Registreer vandag nog jou profiel en begin jou werksoekreis saam met ʼn netwerk wat werklik omgee.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel