
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Lid wen miljoene nadat Sasol hom onbillik ontslaan
Deur Heléne Mocke
ʼn Lojale Sasol-tegnikus wat al vir 40 jaar ʼn pas-en-draai-spesialis is, het ʼn groot oorwinning in die Arbeidshof behaal nadat Sasol hom in 2019 onbillik ontslaan het.
Louis Conroy is in 2019, na afloop van ʼn geskil met ʼn kollega, aangekla en Sasol het besluit om hom nie net tydelik te skors nie, maar om ook interne appèl aan te teken met die doel om sy permanente ontslag deur te voer – iets wat uiteindelik gebeur het.
Conroy het dadelik Solidariteit genader en die saak is na die chemiese bedingingsraad(NBCCI)verwys, waar die kommissaris bevind het dat Sasol met vooroordeel opgetree het. Die kommissaris het beslis die ontslag was onbillik en dat die oortreding nie ontslag geregverdig het nie. Daar is verder bevind dat Sasol nie sy bewyslas kon dra nie. Volgens die uiteindelike bevel moes Conroy vanaf Januarie 2021 met al sy voordele in sy pos herstel word.
Sasol het egter nie by die bevinding berus nie en die saak na die Arbeidshof op hersiening geneem. Solidariteit het ook dié hersiening namens Conroy teengestaan en die stryd teen Sasol se poging gevoer om die arbitrasie-uitspraak tersyde te probeer stel.
Uiteindelik, ná ’n regstryd van meer as vier jaar, het die Arbeidshof in Conroy se guns beslis. Te danke aan Solidariteit se regsverteenwoordigers is Sasol is gevolglik verplig om hom met terugwerkende krag vanaf Januarie 2021 weer in diens te neem en hom vir die hele tydperk te vergoed.
Volgens Ian Stockenström, die Solidariteit litigant wat die saak namens Conroy hanteer het, toon hierdie saak hoe dissiplinêre sanksies altyd binne konteks en op ’n regverdige manier toegepas moet word. “Niemand is immuun teen foute by die werk nie, maar die sanksie van ontslag moet uitsluitlik vir ernstige oortredings gereserveer word,” sê Stockenström. “Ons het mnr. Conroy suksesvol verdedig – van die eerste dispuut af én in die Arbeidshof. Waar regverdigheid dit vereis, sal Solidariteit sonder huiwering optree.”
Werknemers soos Conroy wat dekades lank toegewyde diens lewer, verdien empatie en regverdige behandeling en nie outoritêre optrede nie. “Dit is vir ons ’n saak van groot trots dat Solidariteit sy werksekerheid kon beskerm en herstel,” sê Stockenström
Sluit vandag nog aan by Solidariteit en geniet die voordele wat aan lidmaatskap verbonde is.