
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Internskappe: Die eerste stukkie werkservaring op jou CV
Deur Karen Waldeck.
Wat is internskap? Internskappe is ‘n geleentheid vir studente of jong werkendes om praktiese ervaring in ‘n werkplek te bekom. Dit is vir hulle ‘n belangrike stap om hul loopbaan te begin en om hulself in die werkplek te ontwikkel. Hier is ‘n paar redes hoekom ‘n internskap van onskatbare waarde kan wees.
Eerstens, ‘n internskap bied studente die geleentheid om praktiese vaardighede te leer en te ontwikkel. Studente leer nie net hoe om te werk in ‘n spesifieke bedryf nie, maar hulle kry ook die kans om praktiese probleemoplossingvaardighede te ontwikkel. Hierdie vaardighede kan moeilik wees om in die klaskamer of op universiteite aan te leer, maar deur middel van ‘n internskap kan studente hul vaardighede aanskerp en praktiese ondervinding opdoen.
Tweedens, dit kan studente blootstel aan die werkplek en hulle help om ‘n beter begrip van die werkplek te verkry. Die werkplek is dikwels baie anders as die universiteit en dit kan vir studente oorweldigend wees om dit te navigeer. Deur middel van ‘n internskap kan studente leer hoe om met mense in die werkplek te kommunikeer, hoe om professioneel te wees en hoe om hulself in die werkplek te gedra.
‘n Internskap kan ook ‘n baie waardevolle geleentheid wees om ʼn netwerk te bou. Studente of jong werkendes het die geleentheid om met mense in hul werksplekke te praat en om met ander jong professionele mense in aanraking te kom. Hierdie kontakte kan later in hul loopbaan van groot waarde wees en kan lei tot werksgeleenthede en verdere ontwikkeling. Soos hulle sê, dit is nie wat jy doen nie maar wie jy ken.
Studente wat nog nooit voorheen gewerk het nie leer om onder druk te werk, om hulself te organiseer en om projekte te voltooi, sowel as die belangrikheid van tydsbestuur. Hierdie is veral belangrik vir studente wat pas klaar studeer het. Dit sal dien as die eerste stukkie werksondervinding op jou CV. Hierdie inligting kan van groot waarde wees vir potensiële werkgewers wat die CV van ‘n student oorweeg.
Baie jongwerkendes en studente is baie onseker oor hoe internskappe werk en of hulle daarvoor sal kwalifiseer. Die vraag op baie studente se lippe is hoe weet ons watter maatskappye bied internskappe aan? Die antwoord op hierdie vraag is op Solidariteit se webtuiste te kry. Daar kan jy ʼn lys vind van die meeste maatskappye wat regoor Suid-Afrika internskappe bied, asook wat jou verantwoordelikhede sal wees indien jy die werk kry en die sluitingsdatum om vir die internskap aansoek te doen. Daar word nie net internskappe van die beste maatskappye reg oor Suid-Afrika geplaas nie, maar ook van ander permanente poste wat beskikbaar is.