loading
Artikels
1 dag gelede
hoe-om-vyf-ongemaklike-vrae-in-n-onderhoud-te-hanteer

Foto Krediet: Karolina Grabowska via Pexels

Hoe om vyf ongemaklike vrae in ʼn onderhoud te hanteer

ʼn Werksonderhoud is ʼn stresvolle situasie – selfs wanneer alles vlot verloop. Maar ʼn werksonderhoud waarin daar vir jou talle ongemaklike persoonlike vrae gevra word? Nee dankie! Ons het vir Mandy-Michelle Thackwray, Bestuurder van Solidariteit Werk, om raad gaan aanklop vir as jy in so ʼn situasie sou beland.


Deur Leré Nel

ʼn Werksonderhoud is bedoel om jou vaardighede en geskiktheid vir ʼn pos te bepaal – nie om jou persoonlike lewe onder ʼn vergrootglas te plaas nie. Onderhoudvoerders vra egter soms ongerieflike of selfs onvanpaste vrae wat jou ongemaklik kan laat voel. Dit is belangrik om te weet hoe om professioneel én selfversekerd hierop te reageer.

Volgens Mandy-Michelle Thackwray, Bestuurder van Solidariteit Werk, mag geen werkgewer volgens die wet jou vra oor hoogs persoonlike sake soos jou geloofsoortuiging, seksualiteit of gesinsbeplanning nie. As jy sulke vrae teëkom, beteken dit nie noodwendig dat jy konfronterend moet raak nie – maar jy kan en moet ferm, professioneel en beleefd daarop reageer.

Hier is vyf algemene ongemaklike vrae – en hoe om daarop te reageer:

1. “Beplan jy om kinders te kry?”

Hierdie vraag is nie wetlik toelaatbaar nie en het niks met jou vermoë om die werk te doen te make nie. Jy kan beleefd sê:

“Ek verstaan nie hoe hierdie vraag met my vermoë om die werk doeltreffend te verrig verband hou nie. Mag ek liewer uitbrei oor my relevante ervaring en vaardighede?”

2. “Waarom verlaat jy jou huidige werk?”

Hierdie vraag kan maklik in ʼn kla-sessie ontaard – moenie in dié strik stap nie. Wees eerlik, maar moet nooit jou huidige of vorige werkgewer slegsê nie:

“Ek het baie by my huidige werkgewer geleer, maar ek is nou op soek na nuwe uitdagings en geleenthede vir verdere groei en ontwikkeling.”

3. “Wat is jou salarisverwagting?”

Dis belangrik om hierdie vraag te verwag en daarvoor voor te berei. Doen navorsing oor markverwante salarisse en wees bereid om te onderhandel:

“Ek het navorsing oor markverwante salarisse vir hierdie rol gedoen en verwag iets tussen (minimum bedrag) en (maksimum bedrag). Ek is bewus van moontlike byvoordele wat die totale pakket kan beïnvloed en is bereid om te onderhandel.”

4. “Waar sien jy jouself oor vyf jaar?”

Hierdie vraag wil bepaal of jy ambisieus is en of jy jouself in die maatskappy sien groei:

“Ek sien myself in ʼn rol waar ek meer verantwoordelikheid dra, saam met die span groei en steeds tot die maatskappy se sukses bydra.”

5. “Waarom moet ons jou bo ander kandidate aanstel?”

Wees selfversekerd, maar nie verwaand nie. Identifiseer ’n unieke eienskap of vaardigheid wat jou laat uitstaan:

“Ek is uiters aanpasbaar en ek glo dat dit my help om in ʼn werkplek te floreer wat voortdurend verander en waar dinge teen ʼn vinnige pas plaasvind.”

Onthou dat amper almal sê dat hulle “vinnige leerders” en “hardwerkend” is. Om uit te staan, moet jy eerder voor jou onderhoud aan ʼn unieke (en eerlike) antwoord op hierdie vraag dink.

Algemene wenke om ongemaklike vrae te hanteer

  • Vra terug. As ʼn vraag vreemd, onvanpas of te persoonlik voel, vra vriendelik: “Kan u dalk verduidelik hoe die vraag relevant is tot die pos?”
  • Vat jou tyd. Jy hoef nie onmiddellik te antwoord nie. Neem eerder ʼn oomblik om jou gedagtes agtermekaar te kry.
  • Bly getrou aan jou waardes. Jy hoef nie jou waardes prys te gee om ʼn werk te kry nie – daar sal nog ander geleenthede wees.
  • Oorweeg die werkplekkultuur. As die vrae té persoonlik of ongemaklik raak, moet jy jouself afvra of dit werklik die regte werkplek vir jou is.
  • Vreemde vrae het dalk ʼn doel. Vrae soos “As jy ʼn vrug kon wees, watter vrug sou jy wees en waarom?” is dikwels ʼn poging om vas te stel hoe kreatief jy is en hoe jy jouself sien. Gebruik sulke vrae om te wys dat jy lighartig en prettig ook kan wees – nie net ernstig en professioneel nie.

ʼn Werksonderhoud bepaal nie net of jy geskik is vir ʼn pos nie – dit wys ook vir jou of die maatskappy se werksomgewing met jou waardes ooreenstem. Indien jy voel dat jy onregverdig behandel word of dat die vrae onvanpas is, het jy die reg om jouself van die onderhoud te verskoon.

Bly ingeskakel by Solidariteit se gratis werkplatform vir meer raad en hulpmiddels – vir werksoekers én werkgewers.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel