
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Is beurtkrag se beurt dan nou verby?
Deur Connie Mulder
ʼn Vreemde verskynsel doen homself deesdae voor – wanneer ʼn mens jou huis se ligte aanskakel… dan gaan hulle aan.
Vir mense wat só gewoond geraak het daaraan om eenvoudig nie elektrisiteit vir ʼn gedeelte van die dag te hê nie, is hierdie onbekende waters waarin ons tans beweeg. Ons wil dit dalk nie erken nie, maar ʼn deel van ons sukkel om te glo dat die krag werklik aan is en aan bly. Wat het gebeur? Hoe het Suid-Afrika in ʼn jaar van fase ses na fase sukses gegaan rondom krag? Die antwoord lê opgesluit in die “good”, die “bad” en die “ugly”.
Die “good”
Die ongetwyfelde goeie storie rondom Suid-Afrika se kragsituasie is dat die stortvloed sonkrag deur die privaat sektor ʼn uiters belangrike rol speel in die verligting en uiteindelik nou in die tydelike opskorting van beurtkrag.
Volgens Eskom se eie nuutste skattings is daar omtrent 5 800 MW op dakke in Suid-Afrika. Dit beteken dat gewone mense 1 000 MW meer as Medupi op hulle dakke gebou het in net so onder ʼn jaar.
Hierdie (s)ontploffing van krag het geweldige ruimte gekoop vir die broodnodige onderhoud wat Eskom moes doen op sy kragstasies. Nie net is daar minder druk op die netwerk deur die dag nie, maar Eskom kan sy reserwes aansienlik langer vashou totdat dit werklik benodig word. Daar is verskeie waterpompskemas wat prakties soos groot batterye funksioneer. Wanneer verbruik van krag hoog is, laat Eskom die water afdraand deur turbines loop ten einde krag te genereer wat in die kragnetwerk ingestoot word. Wanneer verbruik laag is, gebruik Eskom van die ekstra elektrisiteit om water terug opdraande in die damme in te pomp. Eskom se beleid is dat die damme teen die begin van elke week vol moet wees. Dit is waarom ʼn mens gewoonlik beurtkrag teen die Donderdag of Vrydag van ʼn week getref het – dit was altyd die punt waarop die damme te leeg was en eers weer vol gepomp moes word oor die naweek.
Wat sonkrag regkry is dat die damme baie minder water deur die dag gebruik en selfs tussen 10:00 en 14:00 water kan terugpomp vir gebruik tydens die aand.
Deur sonkrag só aan te gryp het grootskaalse kleinskaal-opwekking grotendeels die kragkrisis help oplos.
Die “bad”
Die grootste hoeveelheid elektrisiteit in Suid-Afrika word steeds opgewek deur steenkoolkragstasies. Eskom het vir jare die onderhoud op hierdie kragstasies afgeskeep in ʼn desperate poging om die ligte aan te hou. Dit is soortgelyk aan iemand wat net aanhou om pleisters op ʼn bloeiende wond te plak. Dit absorbeer dalk tydelik van die bloed, maar dit los nie die probleem op nie. Uiteindelik kort jy meer en meer pleisters totdat jy doodbloei of ʼn ledemaat verloor. In Eskom se geval was die gevolge dat die energiebeskikbaarheidsfaktor van steenkoolstasies tot net bo 50% gedaal het. Prakties beteken dit dat die helfte van ons steenkoolopwekkingsvermoë op enige tyd eenvoudig nie krag verskaf het nie.
Die slegte, maar nodige, medisyne was om geweldige energietekorte te beleef terwyl die nodige onderhoud op kragstasies gedoen is sodat hulle die pleisters kon afruk en die wonde kon ontsmet. Ons het baie daarvan in 2022 en 2023 beleef en nou word die vrugte gepluk van ʼn baie meer radikale siening oor onderhoud op kragstasies.
Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor op sy steenkoolkragstasies is vir die eerste keer in ʼn lang ruk vir ʼn week lank bo 65% gewees.
Alhoewel dit ongetwyfeld goeie nuus is, val hierdie onder die slegte opsie omdat dit eintlik altyd so moes wees. Internasionaal is die energiebeskikbaarheidsfaktor vir steenkoolkragstasies ongeveer 78%.
Eskom-personeel verdien erkenning vir die geweldige taak wat verrig is om dié kragstasies weer beter te laat werk. Wat jammer bly, is dat Eskom eers feitlik vernietig moes word voordat onderhoud geprioritiseer is.
Eenvoudig gestel is ons steenkoolkragstasies in hierdie benarde toestand in bestuur en besteel.
Die “ugly”
Die laaste rede waarom die ligte eerder aan as af is, is omdat daar aansienlik minder ligte is om aan te skakel. Die vraag na elektrisiteit het van ʼn krans af geval, grotendeels weens die mislukking van Eskom die afgelope dekade om stabiele krag te voorsien.
Daar is ongeveer ʼn 5% minder aanvraag na krag in 2024 as in 2023. Hierdie is ʼn tendens wat die laaste dekade redelik konstant afwaarts neig. Eskom het 214 487 GWh in 2016 verkoop en 238 599 GWh beskikbaar gehad vir verspreiding – dit het geval na 188 401 GWh verkope en 215 318 GWh beskikbaar in 2023. Dit is ʼn inkrimping van 12,1% in verkope en 9,7% in energie beskikbaar in minder as 10 jaar.
In dieselfde tyd het Suid-Afrika se bevolking toegeneem vanaf 55 miljoen mense in 2016 na 60 miljoen mense in 2023.
Suid-Afrika het dus op ʼn manier gekrimp uit beurtkrag uit. Dit hou dalk die ligte aan maar nie die mae vol nie.
Waarheen volgende?
As ons die ligte in die toekoms ook wil aanhê dan durf ons nie nou terugsit en dink die krisis is verby nie. ʼn Ekonomie wat slegs van Eskom afhanklik is, is een wat in die duister gehul gaan wees. Om ʼn helder toekoms te verseker moet daar voortgegaan word met desentralisering van krag en uiteindelik ʼn mark opgestel word waar energie soos enige ander kommoditeit verhandel kan word.
Die lelike werklikheid is dat die Eskom in 2024 nie aan Suid-Afrika se elektrisiteitsvraag in 2007 sou kon voorsien nie. Daar is geen rede om te glo dat Eskom alleen aan Suid-Afrika se elektrisiteitsvraag in 2027 sal kan voorsien nie.