loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
is-jou-praktyk-toeganklik-vir-mense-met-gestremdhede

Foto Krediet: Solidariteit

Is jou praktyk toeganklik vir mense met gestremdhede?

Deur Kyla-Ann du Toit

November is Nasionale Bewusmakingsmaand vir die regte van mense met gestremdhede. Dit is ʼn tyd om doelbewus te besin oor hoe toeganklik ons wêreld vir álmal werklik is. Vir gesondheidspraktisyns begin inklusiwiteit nie by mediese kundigheid nie, maar by respek, empatie en praktiese aanpassings wat verseker dat elke pasiënt menswaardig behandel word.

Volgens Pieter van Niekerk van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging kan toeganklikheid vir mense met gestremdhede in ʼn gesondheidspraktyk verskeie implikasies hê. “Is die personeel opgelei om ʼn persoon met spesiale behoeftes te kan bystaan met die invul van inligting, hulp aan te bied om rond te beweeg en die normale etiket te handhaaf om die persoon menswaardig en onafhanklik te laat funksioneer?”

Dít is die tipe vrae wat jy vir jouself as gesondheidspraktisyn moet afvra – en waarop die antwoord “ja” móét wees.

Waarom maak dit saak?

Elke landsburger – met of sonder ʼn gestremdheid – het die reg tot billike en regverdige behandeling.

“Dit is absoluut noodsaaklik dat enige mediese praktyk doelbewuste aksies moet instel om persone met spesiale behoeftes te alle tye te kan assisteer en hulle behoeftes voorop te stel,” meen Van Niekerk.

ʼn Praktyk wat toeganklik is vir mense met gestremdhede gaan dus verder as fisieke toegang; dit vra ook ʼn kultuur van bewusmaking en deernis.

Toeganklikheid vir rolstoelgebruikers

Vir persone met fisieke gestremdhede moet sekere beginsels altyd in ag geneem word. Van Niekerk verduidelik dit soos volg:

“Is die praktyk fisies toeganklik en toegerus met ingange sonder trappe, deuropeninge en gange wat wyd genoeg is, konsultasiekamers wat groot genoeg ruimte het, toiletgeriewe wat aangepas is, toonbanke wat laag genoeg vir dokumentasie is, ensovoorts?”

Hierdie elemente is nie luukshede nie, maar noodsaaklikhede vir gelyke toegang tot gesondheidsorg vir almal.

Wat van persone met sig- en gehoorgestremdhede?

Gesondheidspraktisyns moet ook sensitief wees vir ander tipes gestremdhede. Vir visueelgestremde persone meen Van Niekerk is eenvoudige riglyne van groot waarde. Hy stel voor dat die volgende vir visueelgestremde persone in gesondheidspraktyke geïmplementeer moet word:

  • • Hulp om in die wagkamer in te kom – onthou, dit is ʼn onbekende terrein vir ʼn siggestremde persoon.
  • • Hulp met oriëntering en invul van dokumentasie – lg. is normaalweg in drukskrif of elektronies wat ontoeganklik vir siggestremdes is.
  • • Aanbied van hulp om rond te beweeg – waarvan die maklikste metode is om ʼn persoon te lei, maar wel op die korrekte manier.
  • • Vriendelike en duidelike kommunikasie – praat met die persoon.
  • • Hulp na en van die konsultasiekamer.

Hierdie klein, praktiese gebare maak die wêreld se verskil aan ʼn gestremde persoon se ervaring van gesondheidsorg.

Die mees algemene foute wat praktyke maak

Volgens Van Niekerk is ontvangspersoneel dikwels onseker oor hoe om ʼn situasie te hanteer en daarom skram hulle weg daarvan om kontak te maak en hulp aan te bied.

“Belangrik in die geval van ʼn siggestremde is om eerste te praat – nie te skreeu nie. Die siggestremde persoon kan nie sien of jy sy of haar aandag het nie. Vra watter hulp benodig word en hulle sal jou die nodige inligting gee.”

Hy voeg by dat bestaande bouregulasies oor toeganklikheid gevolg moet word en dat organisasies soos die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging beskikbaar is om assesserings te doen en opleiding aan te bied.

Selfs kleiner praktyke met beperkte hulpbronne kan ʼn verskil maak. “Kleiner praktyke kan ook met persone met spesiale behoeftes van die gemeenskap konsulteer om hulle te adviseer oor wat die belangrikste behoefte is en dan moontlike aanpassings te kan maak,” sê hy.

Opleiding is goud werd

Van Niekerk beklemtoon dat opleiding en bewustheidsprogramme ʼn groot rol speel in die skep van ʼn inklusiewe ervaring vir persone met gestremdhede.

“Die algemene publiek kan hulself nie altyd in die posisie van die gestremde persoon stel nie. Opleiding en riglyne is dus goud werd.”

Sy boodskap aan gesondheidsorgwerkers tydens Nasionale Bewusmakingsmaand is eenvoudig maar kragtig: “Behandel te alle tye persone met spesiale behoeftes met die nodige respek, liefde en omgee, en wees bedag op hulle spesifieke behoeftes. Wees ook te alle tye bereid om van hulp te wees op ʼn professionele en vriendelike wyse sonder om die persoon se menswaardigheid aan te tas.”

ʼn Beroepstuiste vir gesondheidspraktisyns

Solidariteit se mediese beroepsnetwerke het ten doel om jou beroep as gesondheidspraktisyn te bevorder en te beskerm, asook om die gemeenskap te herinner aan die belangrike rol wat jy in die gesondheidsberoep vervul. Dit is ʼn netwerk wat jou wil bystaan om jou praktyk op die hoogste vlak van professionaliteit te bedryf en te verseker dat jy beskerm en bemagtig word.

Raak vandag nog betrokke by jóú beroepsgemeenskap!

Is jy ʼn apteker? Raak betrokke by die Solidariteit Aptekersnetwerk. Is jy ʼn dokter? Raak betrokke by die Solidariteit Doktersnetwerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel