Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jong werkende: Begin met integriteit, eindig met sukses
Deur Nico Strydom
Die oorgang van universiteit na die werkplek is opwindend, maar daar is ook talle uitdagings wanneer jy vir die eerste keer die arbeidsmag betree.
Volgens dr. Ivor Blumenthal, hoof van loopbaandienste by The Independent Institute of Education se Rosebank College, verg hierdie fase ’n belangrike ingesteldheidsverskuiwing.
“Akademiese kwalifikasies maak dalk vir jou deure oop, maar sukses verg meer as net ʼn graad – dit verg aanpasbaarheid en ʼn gewilligheid om van onder af te begin. Die sprong van die akademiese lewe na die professionele wêreld is nie bloot ʼn kwessie van veranderende omgewings nie; dit is ʼn fundamentele transformasie in ingesteldheid.”
Baie gegradueerdes is verbaas om te ontdek hoeveel oriëntasie, induksie en akkulturasie nodig is om oor te skakel na die korporatiewe wêreld, meen Blumenthal. “Die omgewing, verwagtinge en die interpersoonlike dinamika van die werkplek verskil hemelsbreed van dié van ʼn universiteit.”
Werkgewers belê dikwels aansienlike tyd en hulpbronne in aanvangs- en inlywingsprogramme om gegradueerdes te help aanpas, maar volgens Blumenthal hang die sukses daarvan grootliks af van die individu se toegeneentheid vir leer en hul ontvanklikheid vir terugvoer.
“Gegradueerdes moet hierdie prosesse aangryp as geleenthede om te groei. Jou reaksie op hierdie oorgang is waar die grondslag vir ʼn suksesvolle loopbaan gelê word, en jou ingesteldheid maak die verskil.”
Ten spyte van die indrukwekkende titels op diplomas en grade, sal elke gegradueerde waarskynlik onder – of naby aan die onderkant – van die korporatiewe leer begin.
“Hierdie werklikheid bots dikwels met ʼn gevoel van prestasie wat ervaar word op die hoogtepunt van jou universiteitsloopbaan, naamlik wanneer jy graad vang. Dit is egter van kardinale belang om te verstaan dat om onder te begin nie ʼn degradering van jou prestasie is nie, maar ʼn geleentheid om ʼn stap in die volgende fase van jou lewe te neem.”
Volgens Blumenthal kry ʼn mens op intreevlak blootstelling aan die organisasie se bedrywighede, ontwikkel ʼn mens ʼn dieper begrip van die werklike ingewikkeldhede van jou gekose veld, en begin jy bou aan ʼn netwerk van kollegas en mentors. “Hierdie vroeë ervarings bou ʼn fondament van praktiese kennis en vaardighede wat geen handboek of lesingslokaal kan nadoen nie. Gegradueerdes wat hierdie rolle met entoesiasme en nuuskierigheid aanpak sal waarskynlik vinniger en meer beduidend in hul loopbane vorder.”
Werkgewers waardeer inisiatief, ʼn oplossingsgedrewe ingesteldheid en selfgerigtheid, sê Blumenthal. “Werkgewers soek individue wat leemtes kan identifiseer, oplossings kan voorstel en verantwoordelikheid vir hul eie ontwikkeling kan neem. Dit is binne die vermoë van alle gegradueerdes, en vereis net dat jy geleenthede soek om konsekwent by te dra.
“Deur bereidwilligheid te toon om te luister, waar te neem en te leer, kry gegradueerdes nie net die respek van hul eweknieë nie, maar posisioneer hulle hulself ook as betroubare spanspelers en toekomstige leiers. In die werkplek word erkenning en respek verdien deur aksie, samewerking en bydrae.”
Solidariteit wil jou help om gereed te wees vir die werkplek en om jou volle potensiaal te bereik. Solidariteit se Lidmaatskap vir jongwerkendes wil jou versterk om te verseker dat jy jou loopbaandoelwitte verwesenlik en dat jy vir jouself ʼn toekoms kan bou waar jy vry, veilig en voorspoedig kan leef en werk.