
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jong werkende, ken jy jou regte in die werkplek?
Jong mense word dikwels onregverdig in die werkplek behandel en is nie altyd bewus van hul regte nie. Sommige maatskappye buit juis oningeligte werknemers uit. Solidariteit is egter daartoe verbind om sy lede in sulke gevalle by te staan. Ken jy jou regte? Lees hier meer oor werklike gevalle waar lede onbillik behandel is – en toets jou kennis!
Deur Kyla-Ann du Toit
Sonder ʼn rede afgedank. Verlof word nooit goedgekeur nie. Sonder vergoeding afgelê. Klink dit bekend? Werkplekverwante kwessies is algemeen – veral vir jong mense wat pas begin werk het en dalk nog nie ten volle van hul regte bewus is nie. Daarom is dit noodsaaklik om Solidariteit aan jou kant te hê.
Zane Hanekom, ʼn litigant in Solidariteit se regsafdeling én self ʼn jong werkende, het ʼn paar gevalle gedeel waar werknemers onbillik behandel is en nie 100% bewus was van hul regte nie.
Lees bietjie hier oor relevante sake wat met jou en my in die werkplek kán gebeur:
Saak 1
ʼn Lid van Solidariteit is deur sy werkgewer sonder betaling op tydelike ontslag (“layoff”) geplaas weens beweerde finansiële probleme in die maatskappy. In werklikheid het die maatskappy hom doelbewus vervang sonder om hom in kennis te stel – bloot omdat hulle nie van hom gehou het nie. Sy ontslagtydperk is met drie maande verleng terwyl sy pos intussen gevul is. Die lid, wat geen inkomste gehad het nie en die broodwinner van sy gesin was, het die maatskappy gesmeek om hom af te lê sodat hy van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) (bekend as UIF in Engels) kon eis of ʼn skeidingspakket kon ontvang. Hy was egter nie bewus van sy regte nie en het Solidariteit uiteindelik ʼn maand later genader. Solidariteit het ʼn formele brief aan die maatskappy gerig en aangedring op die lid se heraanstelling en vergoeding, en die onregmatige vul van sy pos uitgelig. Ná geen reaksie van die maatskappy nie, is die lid aangeraai om te bedank, waarna Solidariteit ʼn eis van konstruktiewe ontslag ingedien het. Solidariteit het uiteindelik die saak gewen en die lid is met sewe maande se salaris vergoed.
Saak 2
Ongeveer 30 Solidariteit-lede, wat tussen 1997 en 2015 by BMW werksaam was, het Solidariteit se regspan genader nadat die maatskappy eensydig hul voertuigtoelaagvoordeel onbillik verander het. Volgens hul oorspronklike kontrakte was hierdie werknemers op ʼn voertuigtoelaag geregtig – ongeag die fabrikaat – solank hulle in diens van BMW was. BMW het later besluit dat slegs werknemers wat BMW-voertuie besit het, die toelaag mag ontvang. Gevolglik het verskeie werknemers, wat voertuie volgens hul persoonlike behoeftes gekoop het, dié voordeel verloor – dikwels terwyl hulle nog etlike jare se skuld op hul voertuie gehad het. Solidariteit het dié besluit by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) as ʼn onbillike arbeidspraktyk geopper – en die saak gewen. Solidariteit het ongeveer R5 miljoen in vergoeding namens die betrokke lede verseker.
Saak 3
ʼn Lid van Solidariteit is deur ʼn afleggingsproses geraak ingevolge artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge nadat sy werkgewer finansiële probleme ondervind het. Aanvanklik onbewus daarvan dat hy op regsbystand tydens die proses geregtig was, is die lid doelbewus deur die maatskappy gerusgestel – wat hom verhinder het om hulp te soek. Die maatskappy het hom later ʼn alternatief aangebied: ʼn pos teen 50% van sy huidige salaris, met die dreigement dat, indien hy weier, hy sonder ʼn skeidingspakket afgelê sou word. Dit is tóé dat die lid Solidariteit genader het. Solidariteit het ingegryp, die lid oor sy regte ingelig en die onbillikheid van die proses uitgelig. Nadat Solidariteit betrokke geraak het, het die werkgewer erken dat die proses onredelik was en ingestem om ʼn billike afleggingspakket aan die lid te betaal. Hierdie saak wys hoe werkgewers soms werknemers se gebrek aan kennis uitbuit. Die maatskappy het regdeur die afleggingsproses voorgegee asof hulle die werknemer se “vriend” was en dat hulle hom wou help, maar in werklikheid was dit nie die geval nie.
Hierdie is ware stories oor regte mense. Gelukkig het Solidariteit ingegryp en die lede bygestaan.
Toets jou kennis oor jou regte in die werkplek
Jy hét regte in die werkplek. Die wet beskerm jou. Net omdat jy jonk is en gretig is om jouself te bewys, beteken dit nie dat enigiemand jou mag uitbuit nie. En weet jy wat? Jy hoef ook nie ál die antwoorde te hê nie. Solidariteit het kundiges wat gereed staan om namens jou op te tree en jou regte te beskerm.
Wil jy weet of jy Swaarkry Sarel, Gemiddelde Gerda of Flink Fanie is wanneer dit by regte in die werkplek kom? Beantwoord hierdie tien vinnige vrae en toets jou kennis – klik hier.
As ʼn jong werkende het jy nie altyd al die antwoorde nie – en dit is presies waarom Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap so waardevol is. Jy kry toegang tot onder meer regsadvies, werksgeleenthede, ʼn professionele CV-bouer, mentorskap, onderhoudgidse en gratis opleiding – alles op een platform – in Afrikaans. Dit is nie net werkbeskerming nie – dit is loopbaanbemagtiging! Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap verseker dat jy jou volle potensiaal in die werkplek kan bereik.
Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit, koppel jou lidmaatskap en begin jou reis na sukses!