loading
Artikels
1 dag gelede
my-moedertaalsiening-oor-die-toring-van-babel

Foto Krediet: OkayDeer

My moedertaalsiening oor die Toring van Babel

In hierdie blogartikel deel die skrywer haar persoonlike siening oor die Toring van Babel as metafoor vir die uitdagings en voorregte van werk in jou moedertaal in Suid-Afrika. Sy verduidelik hoe moedertaalgebruik nie net kommunikasie vergemaklik nie, maar ook vertroue, doeltreffendheid en kreatiwiteit in die werkplek bevorder. Deur haar ervaring binne ʼn Afrikaanse gemeenskap te deel, wys sy hoe taal brûe kan bou in plaas van mure. Lees die blog hier.


Deur Ané Janse van Rensburg

Ek het ʼn pêl wat in die hartjie van die Vrystaat boer. Soos die stereotipe lui, is Engels sy derde taal en is die enigste drie woorde wat hy daarvan ken, “yes” en “not yes”. Met die twee tale en drie woorde waarmee hy vlot kan gesels, baan hy sy loopbaanpad tussen sy mielies en skape deur, en het hy niks minder of meer nodig nie.  

Vir diegene van ons wat moet werk waar die geboue en mielies nie ewe hoog pronk nie, is die keuse egter nie so ooglopend eenvoudig nie. Daar word van ons verwag om tussen 11 verskillende moedertale ʼn plekkie in die werkplek te vind; om uiteindelik te help bou aan ʼn groter plan.  

So sien ons in die geskiedenis, en selfs in die Bybel, hoe ʼn gebrek aan kommunikasie en verstandhouding ʼn struikelblok vir die eindbestemming kan wees. Ons bou steeds aan die Toring van Babel en spartel soms verward oor ons meningsverskille. Dit voel selfs of aparte groepe eerder aan hul eie torings wil bou. Die realiteit is egter dat elkeen ʼn handjie moet bysit en bou aan hierdie enkele toring van ons toekoms in Suid-Afrika, en ek is dankbaar dat die Afrikaanse gemeenskap wat om my bou, sál toesien dat die toring klaarkom. Daarmee sê ek nie my Afrikaanse hoekie van die toring is beter nie; ek argumenteer doodeenvoudig dat dit makliker, duideliker en soms lekkerder is om vir die ou langs my vir ʼn baksteen te vra, eerder as ʼn “brick” of ʼn “setene”.

Dus is ek van mening dat om die vryheid te kan hê om in jou moedertaal te kan werk, die volgende voordele inhou:

Wanneer jy in jou moedertaal werk, is daar minder kans vir misverstande. Jy kommunikeer vinniger, duideliker en meer selfversekerd. Jy hoef nie eers te vertaal voordat jy jou gedagtes kan uitdruk nie – jy sê wat jy bedoel, presies soos jy dit bedoel. Dit beteken ook dat jy ander mense se nuanses en ondertone makliker snap. Dit help ook om sterk werkverhoudings met die mense in jou “bouspan” te vorm. Solidariteit beklemtoon gereeld die waarde van netwerke binne jou beroep – ʼn gesamentlike taal skep gemeenskap en begrip. Dit maak dit makliker om vertroue te bou, grappies te maak, fyn sarkasme te gebruik of empatie te toon wanneer dit nodig is.

Taal en kreatiwiteit gaan hand aan hand. As jy in jou moedertaal werk, kan jy vinniger op jou voete dink en, glo ek, kan jy jou take by die werk doeltreffender afhandel. Jy hoef nie energie te mors om woorde in ’n ander taal te soek nie; jy kan fokus op die opdrag wat voor jou lê. Só bewys ons dat ons moedertaal nie net vir kombuisgeselsies of gedigte bedoel is nie – dis ’n taal waarin jy kontrakte kan opstel, kliënte kan bedien en jou loopbaan kan bou.

In ’n wêreld wat al hoe meer Engelsgedrewe raak, is dit ’n voorreg én ’n plesier om in jou moedertaal te kan werk. Wanneer ons in ons eie taal funksioneer, bring dit nie verwarring nie, maar skep eerder verbintenisse. Anders as by die Toring van Babel waar tale mense van mekaar vervreem het, bring ’n gedeelde moedertaal vandag weer mense bymekaar – dit bou brûe eerder as mure. Jy is nie minder professioneel as jy Afrikaans gebruik nie – jy is juis meer outentiek. En as jy die keuse het, hoekom dan nie kies om te werk in die taal wat jou hart die maklikste verstaan nie?

Ek is dankbaar vir my hoekie van die toring waaraan ons elke dag moet help bou – die hoekie waar ek verstaan en verstaan word, waar ek met hartelus saam met ʼn dinamiese Afrikaanse bouspan ʼn beter toekoms verseker. Dit mag soms voel of die toring nie groei nie, maar hy doen. Stadig maar seker. Stukkie vir stukkie. Een baksteen op ʼn slag…

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel