loading
Artikels
3 dae gelede
die-evolusie-van-afrikaanse-instellings-n-hele-eeu-van-taal-kultuur-en-gemeenskap

Foto Krediet: Solidariteit

Die evolusie van Afrikaanse instellings: ʼn hele eeu van taal, kultuur en gemeenskap

Afrikaanse instellings hou die taal nou al vir jare lewendig. Lees hier oor hul ontwikkeling – van toeka tot nou!


Deur Leré Nel

In 1925 is Afrikaans amptelik as landstaal erken. Dié erkenning het nie net ʼn taal bekragtig nie, maar was ook die wortels van ʼn instellingsbou-beweging wat vandag, 100 jaar later, steeds groei. Hierdie eeu van Afrikaanse instellings getuig van veerkragtigheid, vernuwingsvermoë en ʼn diepgewortelde verbintenis tot taal, kultuur en gemeenskap.

ʼn Taal met ʼn infrastruktuur

Afrikaans oorleef nie net in die kombuis en om die braaivleisvuur nie – dit lééf in Afrikaanse instellings. Reeds in die vroeë 20ste eeu is liggame soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (gestig in 1909) gebou om ruimte vir Afrikaans as akademiese taal te skep. Dié Akademie het onder meer die eerste Afrikaanse terminologiewoordeboeke saamgestel – ʼn reusebydrae tot vaktaalontwikkeling.

Die groei en bewaring van ʼn kultuur

Met die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in 1929, is die bouwerk aan ʼn omvattende kultuurnetwerk verder versterk. Vandag, 96 jaar later, is die FAK steeds aktief in kultuurbewaring, onderwysbevordering en die uitbou van Afrikaanse infrastruktuur – van monumente soos die Taalmonument tot musiekfeeste en soveel meer!

Die behoud van ons taal

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), in 1875 in die Paarl gestig, was die eerste formele instelling wat Afrikaans as volwaardige skryftaal erken en begin ontwikkel het. Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA)is later in 1965 gestig en is ná 1994 in ʼn nuwe politieke milieu herleef. Vandag beywer die Genootskap hom vir taalregte en bevorder Afrikaanse skryf- en digkuns steeds aktief.

Die Solidariteit Beweging: Van ʼn mynwerkersunie tot ʼn kragtige groep instellings

Die oorsprong van Solidariteit as vakbond lê in die stigting van die Mynwerkersunie in 1902. Vandag is Solidariteit nie net ʼn waghond vir werkbeskerming nie, maar ook ʼn voorloper in skoolonderrig, beroepsopleiding en hoër onderwys in Afrikaans. Saam met Solidariteit het ʼn kragtige netwerk van Afrikaanse instellings – genaamd die Solidariteit Beweging – organies voortgespruit. Dit sluit organisasies soos Bo-Karoo, AfriForum, Kanton, die Boufonds, Solidariteit Helpende Hand, die FAK, AfriForum Teater en Maroela Media in. Vandag is daar ʼn Afrikaanse instelling vir elke aspek van jou lewe as Afrikaner!

Media en kultuur in Afrikaans

Die media speel ʼn sleutelrol in die voortbestaan van enige taal. Die Afrikaanse radiostasie Radio Sonder Grense (RSG) het in 1996 uit die ou Afrikaans Stereo ontstaan. Media24, met sy wortels in Naspers, is in 2000 onafhanklik gestig en huisves vandag platforms soos Netwerk24, waar koerante soos Volksblad en Die Burger gelees kan word. Intussen het LitNet sedert sy ontstaan in 1999, gegroei tot ʼn gesaghebbende digitale platform vir akademiese debat en Afrikaanse literatuur.

Leer in jou moedertaal

Alhoewel die taalbeleide van universiteite soos Stellenbosch en die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die NWU) in die 2000’s gewysig is, het gemeenskapsprotes en inisiatiewe soos LitNet Akademies verseker dat Afrikaans steeds as akademiese taal kan floreer. Vandag stel trots Afrikaanse instellings soos Akademia, Bo-Karoo en Sol-Tech Afrikaanssprekendes in staat om ná skool steeds in hul moedertaal te leer.

Vermaak in jóú taal

Van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat in 1995 gebore is, tot rolprente soos Paljas (1997) en musiekgroepe soos Die Melktert Kommissie en natuurlik Spoegwolf, het Afrikaans as kultuurtaal geblom. Platforms soos kykNET (gestig in 1999), en meer onlangs AfriForum TV, het gehelp om Afrikaanse vermaak te vernuwe.

Die internet in Afrikaans

In 2001 is die Afrikaanse weergawe van Wikipedia bekendgestel – ʼn bewys dat Afrikaans nie net oorleef nie, maar aanpas by tegnologiese vooruitgang. Met meer as 120 000 artikels is dit een van die grootste digitale Afrikaanse bronne.

ʼn Taal se toekoms lê in sy mense

Afrikaanse instellings – oud en nuut – het ʼn wêreld geskep waarin taal nie net geleer word nie, maar geleef word. Of dit nou in ʼn klaskamer, op ʼn verhoog, aanlyn of op die radio is – instellings skep ruimtes waar mense bymekaar kan kom en dinge saam kan doen – in dieselfde taal.

In hierdie eeufeesjaar vier ons nie net Afrikaans nie – ons vier die instellings, bewegings en mense wat die taal se lig dra.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel