
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Niks sê studentwees beter as Afrikaans nie
Studentelewe is vol uitdagings – en niks beskryf dit beter as Afrikaanse idiome nie! Hierdie artikel wys op ʼn kreatiewe en humoristiese manier hoe idiome die daaglikse realiteite van studentwees perfek vasvang. Dit beklemtoon ook hoe belangrik taal en kultuur is in Solidariteit se ondersteuning aan studente. Lees hier meer om te sien hoe jou eie studentestories in idiome uitgedruk kan word.
Deur Kyla-Ann du Toit
Afrikaans is nie net ʼn taal nie – dis ʼn leefstyl. En as daar een ding is wat studente goed verstaan, dan is dit hoe om met humor, kreatiwiteit en ʼn tikkie sarkasme deur die lewe te gaan. Daarom beskryf idiome dikwels jou dag meer akkuraat as enige handboek.
Dié idiome gee kleur aan alledaagse situasies en bring kultuur en karakter terug in hoe ons as studente praat, grap, kla en lag. Van stres tot sukses tot wyn en droë brood, hier is tien idiome wat jou studentelewe sommer mooi opsom:
1. “Dis nie altyd maanskyn en rose nie”
Ná drie ure se klas moet jy nog ʼn groepsprojek doen én jou wasgoed was. Welkom by studentwees! Dis nie altyd maklik of lekker nie.
2. “Te veel hooi op jou vurk hê”
As jy al jou take betyds wil inhandig, jou beurs wil behou, deeltyds werk én steeds ʼn sosiale lewe probeer handhaaf, dan het jy beslis te veel hooi op jou vurk. Maar as enigeen dit kan baasraak, is dit jý!
3. “Soek ʼn naald in ʼn hooimied”
Jy probeer gou tien minute voor ʼn toets vinnig deur al jou notas werk om ʼn antwoord te kry. Dit is moeilik om iets spesifieks op te spoor – nie onmoontlik nie, maar moeilik!
4. “Hy slaan die spyker op die kop”
Wanneer ʼn klasmaat vra: “Hoekom is die dosent kwaad?” en iemand sê: “Want niemand het die groepwerk gedoen nie,” sê hy presies die regte ding.
5. “In die slagyster trap”
Iemand in die klas vra jou om hul spanmaat vir ʼn groepsprojek te wees en beloof om ʼn wenprojek saam met jou aan te pak – en toe moes jy op die ou end die hele projek self doen. Ai tog! Dit was nou ʼn akademiese slagyster.
6. “ʼn Appel met iemand te skil hê”
Jy besef jou woonstelmaat het altyd ʼn verskoning as dit by skottelgoedwas kom. Nog erger, sy los al haar vuil koppies in haar kamer. Dit is dalk tyd om ʼn appel met haar te skil …
7. “Sy is in haar noppies”
Jy neem ʼn meisie uit vir ete en bestel die duurste bottel rooiwyn. Sy is so in haar noppies dat sy sommer die volgende oggend eerste vir jou ʼn boodskap stuur.
8. “Van die wal in die sloot help”
Jy het vergeet van ʼn toets wat jy môre moet skryf en bel toe jou vriend vir ʼn vinnige studiesessie. Hy weet egter nog minder as jy en help jou van die wal af tot in die sloot.
9. “ʼn Droë brood eet”
Dit is die laaste week van die maand voordat jy sakgeld kry. Jou vriende wil Woensdagaand uitgaan, maar jy het letterlik net R50 oor. Jy besluit om saam uit te gaan en vir die res van die week (letterlik) droë brood te eet. Tawwe-tye-trollie!
10. “ʼn Mond vol tande hê”
Die dosent vra jou uit die bloute: “Wat is jou mening oor die teorie?” Jy antwoord: “Uhm … interessante vraag, Prof.” Jy weet nie wat om te sê nie en nou sit jy maar met ʼn mond vol tande.
By Solidariteit glo ons dat jou taal, jou stem en jou kultuur saak maak. Daarom bied Solidariteit se Studente-aanbod vir jou hulpbronne, geleenthede en kommunikasie in Afrikaans. Vanstudie-, loopbaan- en akademiese ondersteuning tot netwerkgeleenthede en werkvoorbereiding – hier kry jy nie net inhoud in jóú taal nie, maar word jy ook deel van ʼn gemeenskap wat saam met jou deur jou studentejare stap. Lees hier meer oor wat Solidariteit se Studente-aanbod jou alles bied.
Die Studentelewe-groep op Solidariteit is waar jy deel kan wees van ʼn lewende Afrikaanse studentekultuur. Skep vandag nog jou gratis profiel en vier jou taal, jou studie en jou toekoms saam met ander net soos jy – in Afrikaans!