
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Student, vermy hierdie drie foute
Baie studente maak die fout om te dink dat hul graad alleen genoeg is. Dit is egter ʼn fout wat jou loopbaangeleenthede nadelig kan beïnvloed. Hierdie artikel wys jou drie algemene studente-foute en hoe jy dit kan vermy deur eerder proaktief te leer, te vra en in te spring en te werk. Lees hier meer hoe jy vandag al jou toekoms kan begin vorm.
Deur Kyla-Ann du Toit
Dit is maklik om te dink dat jou graad opsigself genoeg is – dat as jy net hard genoeg studeer, alles vanself sal uitwerk soos wat jy dink en hoop. Dít is egter een van die grootste foute wat jy as student kan maak. Jy moenie stilsit en wag vir dinge om in plek te val nie – jy moet proaktief wees!
Solidariteit se Studente-aanbod is hier om jou te help om dit te doen en jou loopbaansukses te verseker. Hier is drie foute wat jy moet vermy en wat jy eerder moet doen:
Fout 1: Stilsit en wag vir werk
Werk gaan nie net aan jou voordeur kom klop nie. Jy moet daarvoor soek, daarvoor vra en bewys dat jy dit verdien. Armand, ʼn student wat tans besig is met ʼn internskap by Solidariteit, meen jy moet altyd bereid wees om te leer sodat jy gereed is vir ʼn permanente pos ná jou studie.
“Toe ek met my internskap begin het, was ek verbaas oor hoe ek by regte projekte betrek is. Dit is baie meer as net ‘kyk en dra’,” sê hy. “Doen soveel as moontlik tydens jou skaduwerkgeleentheid of internskap en doen dit tot die beste van jou vermoë.”
Skaduwerk en internskappe gee jou nie net ʼn kykie in jou toekomstige beroep nie, maar gee jou ook die geleentheid om reeds ervaring op te doen en vaardighede aan te leer. Al begin jy met min werk, groei jou verantwoordelikhede vinnig.
En wie weet? Jou skaduwerkgeleentheid of internskap kan dalk net lei tot ʼn werksaanbod. Wie nie waag nie, wen nie!
Fout 2: Wie nie vra nie leer niks nie
Dit is eenvoudig: As jy nie vrae vra nie, leer jy nie. “Ek vra eerder baie vrae as om iets verkeerd te doen,” sê Armand. “Dit is hoe jy leer en groei. Wees bereid om altyd die meeste te doen. Moenie bang wees om vrae te vra of om jou idees te deel nie.”
Wees nuuskierig. Vra waarom dinge op ʼn sekere manier gebeur. Jy is daar om te leer, nie om slim voor te kom nie. Die studente wat werklik groei, is dié wat voortdurend vra, notas maak en elke geleentheid gebruik om te leer.
Fout 3: Moenie dink jy is te ‘jonk’ om ʼn indruk te maak nie
Jou titel sê dalk “intern” of jy is dalk net iemand se “skaduwee” by ʼn werkplek, maar jy kan steeds ʼn impak maak. Moenie die fout maak om te glo dat jy niks kan bydra nie. Elke span het ʼn vars perspektief nodig – en dit is presies wat jy na die tafel toe bring. Jy kyk met nuwe oë na ou prosesse en jou vrae kan dalk help om dinge doeltreffender te doen.
Jou ouderdom of posisie bepaal nie jou waarde nie – jou houding, werksetiek en bereidwilligheid om te leer, doen. Moenie terugstaan nie: as jy ʼn goeie idee het, deel dit. As jy kans sien om meer te doen, gryp dit aan. En onthou, om professioneel te wees beteken nie jy moet jou persoonlikheid wegsteek en nooit iets sê nie – dit beteken jy wys jy is ernstig oor jou toekoms en wíl hard werk.
Jy gaan dalk verbaas wees oor watter indruk jy op mense maak en hoe daardie indruk jou loopbaantoekoms kan bepaal.
Skaduwerk gaan oor leer, vra en netwerk
Jy gaan vriendskappe bou, vaardighede aanleer en jouself in ʼn professionele omgewing leer ken. Dit is wel nie altyd so styf en formeel soos jy dink nie – daar is plek vir groei, vrae en selfs ʼn bietjie pret.
Gryp elke geleentheid om te leer en ervaring op te doen met albei hande aan. Toekomstige jy gaan dankbaar wees!
Sluit aan by Solidariteit se Studentelewegroep en word deel van ʼn gemeenskap wat hierdie nuwe pad in jou lewe saam met jou wil stap.