loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
sektorteikens-regering-kom-vir-70-000-wit-mans-en-111-000-vroue-se-werk

Foto Krediet: Solidariteit

Sektorteikens: Regering kóm vir 70 000 wit mans en 111 000 vroue se werk

Werkgewers in Suid-Afrika gaan gedwing word om oor die volgende paar jaar duisende wit manlike werknemers, asook duisende vroue van alle rassegroepe wat in veral die onderwys- of gesondheidsorgsektore werk, te vervang. Lees meer hier.


Dit is volgens ’n verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat regulasies ontleed waarmee die regering eersdaags gelyke indiensneming met ras- en geslagstelkaarte – of werkplekkwotas wat amptelik sektorteikens genoem word – gaan probeer afdwing.
Yslike boetes van soveel as 10% van ’n maatskappy se omset staar werkgewers in die gesig indien hulle sou versuim om personeel in veral laer posvlakke in diens te stel wat voldoen aan die syfers wat in April 2025 deur die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die verslag wys hoe die minister se rastelkaarte slegs ’n werklikheid kan word indien (syfers afgerond):

  • 76 000 vroulike gesondheidsorgwerkers oor ʼn tydperk van vyf jaar deur mans vervang word;
  • 65 000 vroulike onderwysers oor ʼn tydperk van vyf jaar deur mans vervang word;
  • 70 000 wit mans in alle sektore deur mans van ander rassegroepe vervang word; en
  • 13 000 swart mans in poste in openbare administrasie vervang word.

Middelklaswerkers, eerder as topbestuur, gaan veral swaar hierdeur getref word.
Die sperdatum wanneer werkgewers hierdie rasplanne moet begin indien, is in September 2025 – dus slegs drie maande van nou af. Nievoldoening daaraan hou ernstige gevolge vir werkgewers in.

Solidariteit beveg egter hierdie rigiede rasregulasies en het minister Meth en haar departement van minagting van die hof aangekla, aangesien die publikasie van die regulasies ’n verbreking van die internasionale skikking oor rasprogramme in die werkplek is wat die regering in 2023 met Solidariteit aangegaan het.
Dit dui volgens Solidariteit daarop dat die regering nie ernstig daaroor is om Suid-Afrikaanse oplossings te eerbiedig nie.
Anders as die regulasies wat in 2023 en vóór die skikking uitgereik is, word die sektorteikens van 2025 nie in verskillende rasgroepe ingedeel nie, al word wit mans (“nie-aangewese groep”) steeds duidelik uitgesonder.
Die nuwe minister trap egter in verskeie ander slagysters in ’n poging om “gelykheid” in die werkplek met rastelkaarte te probeer afdwing.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, het oorgretigheid tot gevolg dat slegs die ekonomies aktiewe bevolking as maatstaf in ag geneem word. Mans en vroue se geneigdheid om uit vrye keuse spesifieke uiteenlopende beroepsrigtings te kies, word totaal misken.
Al verkies vroue meer gereeld verpleging, onderwys of die kunste, en al kies mans onder meer konstruksie, mynbou en werk in die vervoersektor, dring die regering aan op kunsmatige gelykheid.
Mulder sê hierdie sektorteikens en streng sentrale regulering van arbeid in Suid-Afrika is nie net blatante diskriminasie teen minderhede of groepe nie; dit is ook nie voordelig vir swart mense of werkloses nie.

“Dit is verfoeilike ideologie en politieke inmenging in ons arbeidsmark. En dit is waansinnig, toon ons verslag. Selfs al word elke persoon in die nie-aangewese groep (wit mans) deur ’n werklose swart persoon vervang, sal swart werkloosheid slegs met 0,3 persentasiepunte, van 36,98% tot 36,64%, verbeter,” sê Mulder.
Foutiewe of ondeurdagte berekenings met rassyfers is volgens hom ook nie die kernsaak nie, maar eerder die feit dat dit fundamenteel verkeerd is vir ’n regering om op dié wyse met die arbeidsmark in te meng.
“Nou eis die minister die verskerping van presies die soort wetgewing wat swart werkloosheid, in die besonder, sedert 2008 vanaf 27% na 37% laat styg het. Weereens is uitkomste die maatstaf, en die uitkomste hiervan is bitter sleg vir almal in Suid-Afrika.
“Dit is natuurlik ook erg rassisties. Jy kan nie deur herverdeling welvaart vir ’n land verkry nie. Jy moet groei. Tog klou die ANC verbete aan die verlede vas met hierdie ras-obsessiewe beleide wat groei belemmer – en wat net ’n klein elite stinkryk maak ten koste van alle ander Suid-Afrikaanse burgers,” sê Mulder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel