loading
Blogs
2 dae gelede
kwota-klugspel-swart-werkloosheid-bly-al-vat-regering-alle-wit-mans-se-werk

Foto Krediet: Solidariteit

Kwota-klugspel: Swart werkloosheid bly, al vat regering alle wit mans se werk

Regstelling, transformasie, opheffing en bemagtiging.

Daar is verskeie wollerige woorde om van te kies en te keur in hierdie ou woordspeletjie uit die nuwe Suid-Afrika. Lees meer hier.


Pieter Jordaan

Dit is nou as jy enigsins aptyt oor gehad het om hierdie spel te speel. My raaiskoot is dat die meeste van ons versadig is. Mense sien deur kamma-goedbedoelde terminologie waarmee beleide beskryf word wat volgens elke redelike maatstaf net slegte uitkomste gee.

Die ANC se beheptheid met rassewette is ʼn rasroulette. Die gevolge daarvan is gevaarlik en dit diskrimineer pleks van transformeer.

ʼn Beter voorbeeld as die sogenaamde sektorteikens (kwotas) in die rasregulasies, wat die minister van indiensneming en arbeid tot wet wil verklaar om ons kwansuis nader aan werkplekgelykheid te bring, sal jy moeilik kry.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se verslag daaroor beklemtoon die absolute waansin van rasprogramme wat so wyd onder die misleidende vaandel van ‘transformasie’ en ‘regstelling’ aanvaar word.

Suid-Afrika het ʼn regering wat lief is vir sulke telkaarte. Asof dit maar net ‘n spel is, wil hulle lankal hê dit moet vir elke werkplek geld – ʼn sentrale meganisme wat besluit watter kleur of geslag elke werksmag in die land moet wees.

Werkgewers word gedreig met uitsluiting en selfs boetes. En moet oor meriete nie eers durf vra nie. 

So olke bolke gaan dit vir jare lank al aan. Beleidsrigtings word opgestel wat vir wit werkers knor, wat die son en die maan vir swart werkers belowe, wat vir allesbehalwe versoening sorg en wat groei in ons ekonomie totaal belemmer.

Niemand beweeg vooruit nie – dit breek af en dit onderdruk. Vir die minderhede sélf voel dit boonop soos wraak, terwyl dit niks vir die meerderheid regstel nie.

Daarin lê ʼn baie belangrike punt – die tjerrie op die koek: Rassewette help niemand in die land nie.

Indien ons al daardie energie wat gebruik word om instrumente te ontwikkel wat minderhede wettig onderdruk, tog net kon opgaar vir iets opbouend, kan Suid-Afrika tóg die bal aan die rol kry vir iets beter.

Maar, pleks van energie, haak die verstokte politici vas by ideologie, en in die naam van versoening word dit so aanvaar.

Hopelik bring omstandighede of druk, plaaslik en internasionaal, ons binnekort by ʼn kruispad.

Organisasies soos Solidariteit en diegene wat sy aksies steun moet elke geleentheid denkbaar gebruik om groter druk toe te pas. Verslae soos dié een van die SNI help om dit sinvol uiteen te sit vir selfs diegene wat voorheen vrywilliglik aan die woordspeletjie deelgeneem het.

Dit moet gelees word deur werkgewers wat deelneem aan skynheilige transformasieteikens ten einde op goeie voet met politieke mag te bly.

Die belangrikste punt in die verslag is nie alleen die syfers wat sê dat 70 000 wit mans oor vyf jaar in die arbeidsmag sal moet opsy staan, of dat 111 000 vroue vervang sal moet word om vir kunsmatige gelykheid te sorg nie.

Die belangrikste punt is die gevolgtrekking dat selfs al word elke wit man in Suid-Afrika deur ʼn swart man vervang, dit bykans níks vir swart werkloosheid doen nie.

Connie Mulder, hoof van die SNI, wys daarop dat swart werkloosheid in so ʼn geval van 36,98% tot 36,64% sal daal.

Hierdie is dus duidelik ʼn ernstige Suid-Afrikaanse probleem waarvan almal moet kennis neem.

Die kwotaspel werk vir niemand nie en, soos met swart ekonomiese bemagtiging behoort alle Suid-Afrikaners weerstand te bied teen beleide wat nie slegs diskrimineer nie, maar ook ekonomiese groei in Suid-Afrika belemmer.

Dit is iets wat alle landsburgers, ongeag velkleur of geslag, ontmagtig en van ʼn beter toekoms ontneem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel