loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
sa-regering-by-vn-agentskap-aangekla-oor-verbreking-van-ras-skikking-2

Foto Krediet: Verskaf

SA regering by VN-agentskap aangekla oor verbreking van ras-skikking

Solidariteit het ʼn dringende klagte aan ʼn agentskap van die Verenigde Nasies (VN) gerig oor die Suid-Afrikaanse regering se verbreking van die bepalings van die ooreenkoms met Solidariteit oor rassewette. Lees meer hieronder.


Hierdie raswetskikking is in Junie 2023 onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik en in Oktober van daardie jaar verder deur ʼn hofbevel bekragtig.

Solidariteit het die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, reeds ingevolge daardie hofbevel van minagting van die hof aangekla, maar gaan nou ook die IAO versoek om in te gryp sodat die skikking oplaas eerbiedig kan word.

Dit volg nadat minister Meth in April vanjaar regulasies oor gelyke indiensneming én gepaardgaande sektorteikens of werkplekkwotas in die Staatskoerant gepubliseer het. Solidariteit voer aan dat die publikasie van hierdie regulasies en sektorteikens in April 2025 die skikking van 2023 weerspreek deurdat dit onder meer nie aandui dat:

  • regstellende aksie op ʼn genuanseerde wyse moet geskied nie;
  • verskeie faktore buiten ras as kriteria in gelyke-indiensnemingsplanne in ag geneem moet word nie; en
  • geen afleggings as gevolg van regstellende aksie mag plaasvind nie.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die regering se optrede laakbaar.

“Ons owerhede het altyd baie oor mensregtevergrype te sê, terwyl hulle self daaraan skuldig is. Ook hier is die eerbiediging van ondertekende internasionale verdrae, asook skikkings wat onder dié verdrae aangegaan is, te veel gevra vir die regering.

“Ons vra dat die IAO dringend moet toetree tot hierdie rasvergrype wat in Suid-Afrika plaasvind,” sê Van der Bijl.

Hierdie is die volgende stap in Solidariteit se stryd teen die rasmalheid van die Suid-Afrikaanse regering. Solidariteit het onlangs die stigting van ʼn R7 miljoen-regsfonds aangekondig waarmee druk op verskeie maniere – plaaslik en internasionaal – verskerp gaan word om ʼn einde te maak aan die huidige rassebedeling wat Suid-Afrika en álle Suid-Afrikaners kniehalter.

Dit is veral nodig in ʼn jaar waarin die oë van die wêreld op Suid-Afrika as gasheer van die G20-beraad in November is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel