
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Departement se nalatigheid met maatskaplike fondse is ‘wreed’ – Solidariteit
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk het ʼn formele skrywe aan die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) gerig, ná berigte waarin die departement bieg dat sowat R102 miljoen van sy begroting aan die Nasionale Tesourie terugbetaal is sonder dat dit vir noodsaaklike dienslewering vir die kwesbaarste lede van ons gemeenskappe aangewend is. Lees hier meer.
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk waarsku oor ʼn dreigende krisis met die situasie rondom die nalatige versuim van owerhede om fondse wat vir maatskaplike organisasies bedoel is oor te betaal.
Dit volg ná berigte waarin die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling bieg dat sowat R102 miljoen van sy begroting aan die Nasionale Tesourie terugbetaal is sonder dat dit vir noodsaaklike dienslewering vir die kwesbaarste lede van ons gemeenskappe aangewend is.
Bianca Smit, netwerkkoördineerder by Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is walglik om te sien hoe die departement dié oorskot as “goeie bestuur” van hulle finansies beskou, terwyl etlike nie-winsgewende organisasies opnuut op die rand van sluiting staan.
“Betalings en subsidies is weereens nie op tyd of, in sommige gevalle, enigsins betaal nie. Sommige hulporganisasies het nog nie eers ʼn nuwe diensvlakooreenkoms ontvang nie.
“Soos in vorige jare word verskeie verskonings aangevoer – enigiets van stelselprobleme tot gebrekkige beskikbaarheid van fondse terwyl die werklikheid is dat die departement sy stelsels en fondse wanbestuur,” sê Smit.
Volgens haar word subsidies kwartaalliks tot en met 31 Maart betaal waarna nuwe diensvlakooreenkomste en betalings op 1 April in werking moet tree.
“Maar jaar na jaar is daar vir maande lank ʼn oponthoud met die uitbetaling van die fondse aan programme wat kwesbare kinders, bejaardes of mense met gestremdhede aan die lewe moet hou.
“Kinderhuise wat na ʼn groeiende getal kinders moet omsien sit sonder fondse en salarisse kan nie betaal word vir die mense wat hard werk om dié noodsaaklike dienste te lewer nie,” sê Smit.
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk het gevolglik ʼn formele skrywe aan die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) gerig waarin die volgende geëis word:
- • ʼn Onmiddellike en onafhanklike ondersoek na die omvang en redes vir die onderbesteding van fondse wat spesifiek toegestaan is om programme uit te rol aan ons land se mees kwesbaarste mense.
- • Daadwerklike stappe om die jaarlikse probleem met vertragings van subsidiebetalings aan NRO’s permanent op te los.
Solidariteit is bekommerd oor die gebrekkige prioritisering van die owerhede wat hierdie situasie moet bestuur.
“Dit is wreed van die departement om te spog oor die groot bedrae geld wat ‘gespaar’ word gegewe die verwaarlosing wat ons maatskaplike organisasies moet verduur.
“Die versuim om die NRO’s as ʼn vennoot te behandel, en hulle betyds en voldoende te befonds, is eintlik ʼn klap in die gesig van die organisasies wat veronderstel is om saam na mense se basiese behoeftes om te sien,” sê Smit.
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk sal voortgaan om druk uit te oefen en sal alle beskikbare kanale gebruik om rekenskap, van die regeringsamptenare wat hiervoor verantwoordelik is, te eis.