
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit-netwerkgeleentheid bring bemarkers en verkoopspersone bymekaar
Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk het op 5 Junie 2025 bemarkers en verkoopspersone bymekaar gebring vir ʼn dinamiese spoednetwerkgeleentheid waar idees, tegnieke en perspektiewe gedeel is. Gasspreker Lizette Volkwyn het die gehoor met woorde en idees betower terwyl diegene wat dit bygewoon het heerlik kon saamkuier. Lees hier meer oor hierdie inspirerende netwerkgeleentheid.
Deur Kyla-Ann du Toit
Met koffiebekers in die hand en idees wat om elke tafel borrel, het dromers, doeners en denkers in ʼn warm, vriendelike atmosfeer die geleentheid gekry om hul netwerke uit te brei en hul kennis te verbreed.
Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk het op 5 Junie 2025 ʼn unieke spoednetwerkgeleentheid aangebied wat persone in bemarking en verkope onder een dak bymekaar gebring het. Met ʼn verskeidenheid professionele persone – van bemarkers en adverteerders tot verkoopspersone en sake-eienaars – was dié geleentheid die ideale platform om idees uit te ruil, nuwe bemarkingstegnieke aan te leer en netwerke te vergroot.

Die waarde van netwerkgeleenthede
Dié dinamiese netwerkgeleentheid het gefokus op die krag van verhoudings in ʼn professionele omgewing. Persone wat die geleentheid bygewoon het, het die geleentheid gekry om hul kennis te deel, nuwe kontakte te bou en by mekaar te leer in ʼn omgewing wat samewerking en groei aanmoedig.
“Vir praktisyns in die kommunikasie- en bemarkingsbedryf, veral vir verkoopspersone, is netwerkgeleenthede soos vanaand baie waardevol,” sê Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk. “Jy kry goeie insig en kennis van die spreker, maar jy kry ook die geleentheid om met ander mense in die beroep te netwerk en te sien en hoor wat ander mense in die bedryf doen.”
Lizette Volkwyn, ʼn meesterlewensafrigter, skrywer, internasionale spreker en een van slegs twee gesertifiseerde Paul Ekman Instituut (PEI)-leuenverklikkers in Suid-Afrika, was die gasspreker vir die geleentheid en dit was beslis een van die hoogtepunte van die aand. Met haar kenmerkende styl het sy die gehoor uitgedaag om anders te dink oor netwerkgeleenthede en die onmiskenbare krag van netwerke bou.

“Ek moet eerlik wees, netwerkgeleenthede lyk vir my altyd so formeel en vals. ʼn Mens wonder ook soms of dit die moeite werd is. Vandag sê ek wel vir julle: dit is beslis die moeite werd! Dit is een van daai kernkragte wat jy het om jou besigheid uit te brei en ook met kredietwaardigheid in ʼn netwerk te groei,” sê Volkwyn. “Dit gaan nie oor wat ek uit die aand kan kry nie, maar oor die indruk wat ek maak.”

Twee wêrelde, maar een boodskap
Volgens Roos is dit juis hierdie soort deel van idees en perspektiewe wat die netwerk uniek maak. “Solidariteit en spesifiek die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is baie toegewyd tot die ontwikkeling van jong persone en mense in die beroep. Ons wil vir jong mense wat pas die beroep betree het sowel as mense wat al ervaring in die beroep het, geleenthede soos vanaand gee om verder te ontwikkel om hul volle potensiaal te kan bereik,” sê Roos.
Die aand het nuwe verbindings gekweek wat beslis tot verdere samewerking sal lei. Wat die aand ook werklik besonders gemaak het, is dat dit nie bloot oor verkope of bemarking op hul eie gegaan het nie, maar oor hoe dié twee velde mekaar aanvul en hoe dit saam mekaar versterk.

ʼn Suksesvolle beroep begin by ʼn suksesvolle netwerk
Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk is daartoe verbind om persone in hierdie bedryf meer gereeld met geleenthede soos dié toe te rus, te inspireer en aan mekaar te verbind. Die beroepsnetwerk groei voortdurend – nie net in getalle nie, maar ook in geleenthede.
Hierdie netwerkgeleentheid is net nóg ʼn bewys dat jou grootste bate in ʼn kompeterende mark nie net jou vaardighede nie is, maar jou netwerk. Skep dus vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by jou aanlyn beroepsgemeenskap!