loading
Artikels
5 dae gelede
kunsmatige-intelligensie-skryf-goed-maar-jy-skryf-beter

Foto Krediet: Pexels

Kunsmatige intelligensie skryf goed, maar jý skryf beter!

In ʼn digitale wêreld waar kunsmatige intelligensie (KI) al hoe meer skrywers se werk oorneem, bly die menslike stem ʼn onontbeerlike bate. Hierdie artikel wys hoe jy KI doeltreffend kan gebruik sonder om jou egtheid en persoonlike styl prys te gee. Lees hier meer hoe jy KI kan gebruik om stories te vertel sonder om jou eie stem stil te maak.


Deur Kyla-Ann du Toit

In ʼn era waar algoritmes besluit wat ons sien en kunsmatige intelligensie (KI) jou nuusbrief binne sekondes kan skryf, is daar een ding wat steeds uitstaan – egtheid. Mense hunker na stories wat menslik, eg en persoonlik is. Hulle wil nie net inhoud hê nie, hulle wil iets voel wanneer hulle ʼn teks lees. En dít is waar ʼn storieverteller hul mag behou – selfs in die oorlaaide wêreld van sosiale media.

ChatGPT het hierdie paragraaf geskryf. Ironies? Ja. Maklik? Beslis. Menslik? Nee.
En dit is presies die punt. KI maak ons werk as skrywer en storievertellers beslis makliker, maar daar bly tog ʼn leemte – die stem van die mens. Ons sien daagliks op sosiale media hoe video’s en advertensies met die gebruik van KI gemaak en geskryf is, en ja – dit is baie goed gedoen en soms moet ʼn mens twee keer kyk of lees totdat jy besef dat dit deur KI gegenereer is. Wat ek wel vinnig besef, is dat wanneer ʼn persoon hul eie denke en idees gebruik, die “gevoel” van die mens dadelik opsigtelik is. Dit is persoonlik, uniek en eg.

Ek wil nie hierdeur sê dat ons glad nie KI moet gebruik nie. Ek wil jou egter motiveer om steeds te verseker dat jou eie stem duidelik deurkom wanneer jy KI as hulpmiddel gebruik.

Hoe maak jy jou inhoud menslik met behulp van KI?

1. Begin met jou eie storie

Gebruik KI om struktuur te skep of idees te bou, maar begin met iets wat eg is aan jou stem. Deel ʼn ervaring, ʼn gevoel of ʼn les wat jy geleer het – dit is dinge wat KI nie uit sy eie kan skep nie. Jou leser wil hoor wat jý dink en voel.

2. Voeg jou stem by

Laat KI jou help met die eerste konsepteks, maar werk daarna self deur die teks. Vervang generiese sinne met woorde wat jóú styl en persoonlikheid reflekteer. Verwyder dit wat vals klink. Voeg emosie by. Laat jou eie stem duidelik deurkom.

3. Hou jou stem deurlopend duidelik

Of jy nou ʼn sosialemediaplasing, ʼn blog of e-pos skryf – maak seker dat jou “stem” deurlopend duidelik is. Is jy snaaks, reguit, sarkasties of passievol? Laat KI jou stem versterk en nie vervang nie.

4. Skep ruimte vir jou opinie

KI probeer dikwels neutraal wees. Jy hoef nie. As jy regtig gehoor wil word, moet jy durf sê wat jy glo. Moenie bang wees om standpunt in te neem of emosie te toon nie. Dit is iets wat KI nie self gaan doen nie.

5. Gebruik KI as ʼn kreatiewe hulpmiddel – nie as ʼn finale antwoord nie

Sien KI soos ʼn vriend wat jou help dink – jy kies egter self wat werk en wat werk nie. Gebruik dit vir inspirasie, maar druk jou eie stempel op die eindproduk af.

Die menslike faktor wen altyd

In ʼn wêreld vol slim algoritmes en sagteware wat selfs mense se gesigte kan namaak, bly jou menswees jou grootste bate. Mense koop nie net produkte of idees nie – hulle koop stories, emosie en egtheid. Gebruik die gereedskap tot jou beskikking – ja, insluitend KI – maar moenie jou stem laat stilmaak nie. Want in die stryd tussen egtheid en perfek, sal egtheid altyd wen!

Sluit vandag nog by die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk aan en word deel van jóú beroepsgemeenskap wat jou inspireer en motiveer om jou volle potensiaal te bereik.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel