loading
Artikels
1 week gelede
kreatiwiteit-in-bemarking-is-jou-grootste-bate

Foto Krediet: Pexels

Kreatiwiteit in bemarking is jou grootste bate

Hilde Kruger, adviesraadslid van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, bied insigte oor hoe elke persoon kreatiwiteit kan aanwend – ongeag hul beroep – en waarom dit veral vir klein ondernemings ʼn onontbeerlike bemarkingsbate is. Lees hier meer en ontdek hoe jy jou unieke stem in die wêreld van bemarking kan laat hoor.


Deur Kyla-Ann du Toit

Verbruikers word daagliks met bemarkingsboodskappe gebombardeer, maar dit is nie meer genoeg om bloot net inligting oor te dra nie. Bemarkingsteks moet inspireer, beïnvloed en ʼn impak maak – en dít gebeur wanneer kreatiwiteit aangewend word.

Volgens Hilde Kruger, adviesraadslid van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is kreatiwiteit nie ʼn byvoeging tot bemarking nie, maar die kern daarvan. “Sonder kreatiwiteit is bemarking net inligting wat oorgedra word. As jy kreatief bemark, kom inspirasie, invloed en impak na vore.”

Kreatiwiteit laat jou toe om die geraas van massa-inligting uit te sny en jou eie unieke stem in die mark te vestig.

Kreatiwiteit is meer as kleurvolle advertensies

Kruger sien kreatiwiteit as veel meer as net slim visuele elemente of prettige slagspreuke – dit is ʼn manier van dink, probleemoplossing en verhoudingbou. “Die breër toepassing van kreatiwiteit in bemarkingstrategieë strek verder as net die ontwerp van ʼn advertensie of ʼn treffende slagspreuk. Kreatiwiteit raak alle fasette van bemarking soos konsepontwikkeling, strategiese beplanning, probleemoplossing en die vermoë om ʼn boodskap oor te dra.”

Met ander woorde: kreatiwiteit is die dryfkrag agter hoe ʼn handelsmerk dink, praat en optree.

Kreatief wees is vir almal – nie net kunstenaars nie

Wat as jy nie jouself as “kreatief” beskou nie? Kruger glo vas dat almal ʼn vorm van kreatiwiteit besit – selfs al lyk dit nie soos die stereotipiese kuns- of musiektalent nie.

“Almal is kreatief in iets. Jy kan kreatief wees in wiskunde, kuns, Afrikaans of selfs wetenskap. Jou gawes het kreatiwiteit. Soms hou ons foute en kritiek ons terug. My raad is om jouself uit te daag deur meer te speel – ongeag van die foute of kritiek,” sê sy.

Om kreatief te wees, begin by ʼn ingesteldheid: moenie jouself aan ander se manier van uitdrukking meet nie, maar ontdek wat jóú uniek maak.

Kreatiwiteit – ʼn kragtige wapen vir klein ondernemings

Vir klein ondernemings en entrepreneurs met beperkte hulpbronne is kreatiwiteit dalk een van hul waardevolste bemarkingsbates. Dit vereis nie groot begrotings nie – dit vereis net egtheid en die vermoë om mense raak te sien. “Vertel jou storie en bou ʼn persoonlike verhouding met jou teikenmark. Jou kliënte kan jou grootste bemarkers wees,” sê Kruger. 

Sy moedig ook samewerking aan. “Wys vir hulle wat julle ingemeen het – hetsy dit op sosiale media of by stalletjies is. Mense praat met mekaar. Jou kliënte kan jou grootste bemarkers wees. Bou netwerke en verhoudings met ander klein ondernemings wat ʼn soortgelyke visie of waardestelsel het.”

Tegnologie en menslikheid: ʼn wenresep

Tegnologie kan nie kreatiwiteit vervang nie, maar dit kan dit aanhelp. Kruger wys op twee sleuteltendense wat tans bemarking wêreldwyd beïnvloed: kunsmatige intelligensie (KI) en maatskaplikgedrewe bemarking.

“KI en bemarkingsoutomatisering koop tyd en help jou om anders te dink. ChatGTP leer jou om die regte vrae te vra. Gebruik dit as ʼn hulpmiddel wanneer jy uit idees uit hardloop.”

Terselfdertyd verwag verbruikers meer as net mooi woorde – hulle wil sien dat handelsmerke omgee. “Verbruikers begin handelsmerke ondersteun wat wys dat hulle aktief in die gemeenskap betrokke is. In Suid-Afrika is gemeenskappe afhanklik van mekaar en sal dit slim wees om by gemeenskappe in te skakel wat dieselfde waardes het.”

Moenie die boks net los nie – gooi hom weg

Kruger meen dat leerders en praktisyns in die bemarkingswêreld nooit moet ophou groei nie. “Soms moet ons buite die boks dink deur glad nie die boks in ag te neem nie. Vat berekende kanse en wees bereid om nooit op te hou leer nie.”

Kreatiwiteit is jou bemarkingskrag! Dit stel jou in staat om jou stem te laat hoor, lojaliteit te bou en opregte verbintenisse te vorm. Soos Hilde dit stel: inspirasie, invloed en impak is nie toevallig nie – dit is die vrug van kreatiewe denke in aksie.

Raak vandag nog deel van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk en word deel van jóú beroepsgemeenskap waar jy geïnspireer en gemotiveer word om jou volle potensiaal te bereik!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel