
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jong werkende, ʼn internskap is die goue sleutel vir jou loopbaan
As jy jou loopbaan ʼn hupstoot wil gee en regtig bo die res wil uitstaan, is ʼn internskap jou sleutel tot sukses. Hierdie artikel wys hoe Solidariteit jou as jong werkende help om praktiese ervaring op te doen wat jou CV versterk en werklik help om jou plek in die werkplek te vind. Lees hier hoe jy toegang tot honderde internskappe en waardevolle hulpmiddels op Solidariteit kan kry – alles in Afrikaans.
Deur Kyla-Ann du Toit
Moenie net nóg een wees nie – staan uit bo die res! Jy het dit seker al menige kere vantevore gehoor, maar wonder jy hoekom dit nodig is en hoe jy dit kan regkry? Wel, die antwoord is maklik: Solidariteit!
Solidariteit wil verseker dat jy uitstaan bo die res en jou volle potensiaal in die werkplek bereik. Daarom bied Solidariteit vir jong werkendes die geleentheid om praktiese werkservaring op te doen. Werkgewers soek deesdae nie net die “papiere” nie; hulle wil ook sien dat jy al ʼn bietjie praktiese ervaring opgedoen het.
Dít is presies wat ʼn internskap vir jou kan beteken: ʼn geleentheid om te sien wat die werklikheid van ʼn dag in jou beroep behels, om jou vaardighede te slyp en jou netwerk uit te bou.
Wat behels ʼn internskap?
ʼn Internskap is ʼn tydelike werksgeleentheid – soms betaald, soms nie – waar jy as ʼn jong werkende praktiese ervaring in jou studie- of beroepsveld opdoen. Dit gaan nie net oor koffie vir jou kollegas maak en aandra nie; dit gaan daaroor om te leer, te groei en werklik te wys dat jy bereid is om jou moue op te rol en hard te werk.
Hoekom is dit so waardevol?
- • Ervaring sonder die druk: Jy kry eerstehandse blootstelling aan die werkplek, sonder dat jy reeds al die antwoorde hoef te hê of aan ʼn proeftydperk gebonde is.
- • Bou jou netwerk: Jy ontmoet mense in die bedryf wat jou dalk later weer kan help – of selfs permanent aanstel.
- • Staan uit op jou CV: Werkgewers soek mense wat reeds ʼn bietjie ervaring op hul CV het. ʼn Internskap op jou CV wys dat jy reeds moeite gedoen het om te leer en te groei, en dat hulle jou nie alles met ʼn teelepel hoef te voer nie.
Hoe kry ek ʼn internskapgeleentheid?
Dit is hier waar Solidariteit in die prentjie kom. Danksy Solidariteit se gratis werkplatform kan jy ʼn profiel skep, jou CV laai en toegang tot honderde internskappe kry – alles in Afrikaans. Dit is maklik, vinnig en gebruikersvriendelik. Jy kry ook toegang tot CV-gidse, onderhoudvoorbereiding, netwerke én kortkursusse om jou vaardighede te slyp.
Jy het die kennis. Jy het die passie. Nou kort jy net ʼn kans – en dit is presies wat Solidariteit jou bied.
Wenke vir sukses
- • Gryp enige kans aan – al is dit korttermyn of onbetaald. Ervaring is uiters waardevol!
- • Leer en vra vrae – wys jy is gretig om te leer en dat jy wíl groei. Universiteit en die werkplek verskil dag en nag …
- • Skep ʼn indruk – wees altyd betyds, professioneel en gewillig. Jy sál die vrugte van jou harde werk pluk.
Jý is die enigste persoon wat werklik die sukses van jou loopbaan kan verseker. Solidariteit maak dit egter net soveel makliker. Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit – jou sukses is slegs een klik weg!