Foto Krediet: Kanton
Gekopieër
Kanton: #JyHoortHier, daarom skep ons leefruimtes in Afrikaans
Deur Wilmarie Brits
Kanton, die eiendomsbeleggingsmaatskappy wat deur die Solidariteit Beweging gestig is, beweeg van krag tot krag.
Kanton se bestaansreg is om kapitaal te werf, eiendomme te ontwikkel en volhoubare eiendomsoplossings vir ’n voorspoedige Afrikaanse gemeenskap te verskaf. “Ons organisasie streef daarna om instellings in die Afrikaanse gemeenskap te bemagtig deur eiendomme vir die gemeenskap te voorsien en só leefruimtes vir Afrikaans te skep. Daarom is ons baie opgewonde oor die projekte wat voorlê,” sê Henk Schalekamp, die besturende direkteur van Kanton.
Suid-Afrika is jou geboorteland en Afrikaans is jou geboortetaal. Jou en jou kinders se toekoms is hier in Suid-Afrika. Daarom bemagtig Kanton Afrikaanse instellings deur eiendomme te ontwikkel sodat eietydse leefruimtes gevestig word waarbinne toekomstige generasies kan groei en floreer.
Schalekamp beskryf 2023 as ʼn jaar van buitengewone prestasie wat ten nouste verband hou met Kanton se oorhoofse missie, naamlik om kapitaal tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap te mobiliseer.
In 2023 is begin met die ontwikkeling van Sol-Tech se koshuis, die Plaashuis, soos wat dit bekend gaan staan. Dié indrukwekkende Kanton-ontwikkeling behels ʼn 400-bedkoshuis ter waarde van ongeveer R160 miljoen. Dit is ʼn geïntegreerde studenteverblyf-aanbod wat ʼn veilige ruimte vir Sol-Tech-studente vir die duur van hul studie skep. Die Plaashuis word in Oktober 2024 aan Sol-Tech oorhandig om verblyf vir studente te bied.
Kanton spog tans met ʼn bestaande portefeulje wat sowat 11 100 vierkante meter se verhuurbare ruimte in Centurion beslaan. Die Akademia-universiteitskampus en nog kantore en kommersiële fasiliteite van sowat 55 700 vierkante meter is op Kanton se ontwikkelingsagenda.
Verder is ʼn behoefte aan aftreebehuising en eenhede vir mediese sorg vir lede, asook Afrikaanse skole vir die gemeenskap reeds as moontlike toekomstige ontwikkelings geïdentifiseer.
Buiten sy stewige portefeulje beywer Kanton hom vir volhoubare groei deur sy nuwe beleggingsplatform. Kanton is strategies gestruktureer vir beleggings in samewerking met Pallidus wat in beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur spesialiseer.
Gemeenskapsinstellings genereer hulle inkomste deur die bevordering van hul bestaansrede omdat ʼn gemeenskap so sterk is soos sy instellings en die instellings so sterk is soos die gemeenskap. Deur ʼn vennootskap tussen kapitaal en kultuur te skep, breek Kanton ʼn nuwe wêreld vir leefruimtes in Afrikaans oop.
Ontwikkelings soos die Sol-Tech- en die Akademia-kampus bied goeie waarde vir geld teen markverwante tariewe. “Ons prestasiedoelwit is om goeie groei te bewerkstellig en ʼn deurlopende inkomste aan beleggers, wat Kanton se visie en doelwitte deel, te lewer,” verduidelik Schalekamp.
Terwyl die notering van Kanton op een van die alternatiewe beurse in die vooruitsig gestel word, is die beleggingsmaatskappy doelgerig besig om deur tegnologie en mark-innovasie buigsame oplossings vir ʼn verskeidenheid van beleggers te skep.
Solidariteit glo in die leuse #OnsBou want #JyHoortHier. Dit beteken dat wanneer jy oor die toekoms twyfel, dan bou jy dit self. Danksy elke Solidariteit-lid se bydrae kon ons help om die fondasies vir hierdie leefruimtes in Afrikaans te lê.