loading
avatar
Artikels
1 maand gelede
kantoorkampioen-2026-wie-hou-jou-kantoor-aan-die-gang

Fotokrediet: Solidariteit

Kantoorkampioen 2026: Wie hou jóú kantoor aan die gang?

Deur Kyla-Ann du Toit

Elke kantoor het daardie één persoon. Die een wat weet waar alles is, onthou wat almal anders vergeet het, ʼn oplossing vind voordat ander eers die probleem raakgesien het en altyd bereid is om te help.

Hulle is die probleemoplossers, staatmakers en omgee-harte wat agter die skerms seker maak dat ʼn kantoor, skool of onderneming elke dag seepglad funksioneer.

Solidariteit is vanjaar weer op soek na hierdie onmisbare administratiewe en ondersteuningspersoneel vir 2026 se Kantoorkampioen-kompetisie. Die kompetisie gee erkenning aan mense wat hul werk elke dag met passie, trots en toewyding verrig en wat dikwels die hart van hul werkplek aan die klop hou.

Wie laat die wiele in jou kantoor draai?

ʼn Kantoorkampioen se werk strek dikwels veel verder as wat op ʼn posbeskrywing staan. Dit kan die ontvangspersoon wees wat elke besoeker met ʼn glimlag verwelkom, die administratiewe beampte wat altyd ʼn plan maak wanneer iets skeefloop, of die “kantoortannie” by ʼn skool wat elke leerder en ouer ken en sorg dat die skoolhoof sy koel hou.

Die Kantoorkampioen-kompetisie vier juis hierdie mense. Solidariteit wil met hierdie kompetisie kantoorpraktisyns vereer wat altyd bereid is om te help, hul kollegas ondersteun, hul werk met trots verrig en die kantoor seepglad laat funksioneer.

Dit is ʼn geleentheid om vir iemand wat dalk nie gereeld erkenning kry nie te sê: “Ons sien wat jy doen, en dit maak ʼn verskil!

Wie kan genomineer word?

Vanjaar word kantoorkampioene in twee kategorieë vereer: die skolesektor en die algemene sektor. Nadat iemand genomineer is, kry hulle die geleentheid om hul nominasie te aanvaar en amptelik deel van Kantoorkampioen 2026 te word.

En daar is behoorlik rede om jou beste voetjie voor te sit! Die wenner ontvang vanjaar ʼn kontantprys van R5 000, terwyl die naaswenners elk met ʼn bederfmandjie huis toe sal gaan.

Nominasies open op 2 September 2026 en sluit op 2 Oktober 2026.

Laat jou #Kantoorkampioen skitter

Dink aan die persoon wat jou werkdag makliker maak. Die een wat altyd weet wat volgende moet gebeur, ander ondersteun wanneer die spanning hoog loop en met ʼn glimlag inspring wanneer hulp nodig is.

Dit is nou jou kans om erkenning aan kantoorpraktisyns te gee vir die onmisbare rol wat hulle elke dag in ons werkplekke vervul!

Klik hier om vandag jou Kantoorkampioen vir 2026 te nomineer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel