loading
avatar
Artikels
1 maand gelede
n-bederfdag-vir-die-hart-van-die-kantoor

Fotokrediet: Solidariteit

ʼn Bederfdag vir die hart van die kantoor

Deur Kyla-Ann du Toit

“Kantoorpraktisyns is die mense wat al die balle in die lug hou en die kantoor aan die gang hou, maar hulle kry nie altyd die erkenning daarvoor nie.”

Só het Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, die betekenis van vanjaar se Sekretaressedagvieringe saamgevat.

Op 2 September het talle kantoorpraktisyns by Die Kweekhuis in Centurion die kantoor agtergelaat om self bederf te word, waardeer te word en gevier te word.

ʼn Dag van erkenning

Solidariteit se bederfdag vir kantoorpraktisyns is vanjaar in ses streke landswyd aangebied. Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk vier reeds die afgelope agt jaar Sekretaressedag om erkenning te gee aan kantoorpraktisyns en die belangrike bydrae wat hulle in verskeie sektore lewer.

“Ons het gekies om hulle te vereer vir die onmisbare werk wat hulle doen. Dit is dikwels die onmisbare persone wat die grootste impak maak. Daardie klein dade in hul werk maak ʼn groot verskil,” sê Smit.

Petro Husselman, adviesraadslid van die Kantoorpraktisynsnetwerk en self ʼn kantoorpraktisyn, het as programaanbieder opgetree en die dames met ʼn goeie dosis humor verwelkom. Smit het die geleentheid geopen en gebid, waarna sy beklemtoon het hoe belangrik dit is dat hierdie persone vereer word vir die onmisbare rol wat hulle in hul werkplekke vervul.

Verf, kuier en lekker bederf

Ná die formaliteite was dit tyd om te eet, te kuier en kreatief te raak.

Elke bywoner het met aankoms ʼn geskenksak ontvang, en by elke sitplek het ʼn klein skilderdoek en verftoerusting gewag. Met die hulp van ʼn verfinstrukteur het die dames hul eie kunswerke aangepak terwyl daar heerlik saamgekuier en gelag is.

Daar was ook volop pryse op die spel. Met Bingo, gelukkige trekkings en vrae en uitskieter-antwoorde kon die dames onder meer Mondvol-koekies, ʼn biltongruiker, blomme en verskeie afslagkoepons losslaan.

Vanjaar se Sekretaressedag het ook die afskop van Solidariteit se jaarlikse Kantoorkampioen-kompetisie ingelei, waarmee besonderse kantoorpraktisyns en hul waarde in die werkplek verder in die kollig geplaas word.

Meer as net ʼn bederfdag

Kantoorpraktisyns is dikwels die mense wat agter die skerms seker maak dat alles voor die skerms glad verloop. Hulle organiseer, onthou die besonderhede, los probleme op en sorg dat die kantoor se wiele aanhou draai.

Dit is juis waarom die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk nie net op Sekretaressedag erkenning aan dié beroepsgroep gee nie, maar regdeur die jaar daarna streef om kantoorpraktisyns te ondersteun, met mekaar te verbind en in hul beroep te versterk.

Vir een dag was die fokus egter net op húlle: die mense wat gewoonlik na almal en alles rondom hulle omsien, kon self asem skep, kuier en ʼn bietjie bederf word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel