loading
Artikels
2 weke gelede
kantoorkampioen-bekroon-met-solidariteit-se-toekenning

Foto Krediet: Solidariteit

#Kantoorkampioen bekroon met Solidariteit se toekenning

Deur Heléne Mocke

Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het buitengewone mense in hul beroep op ʼn besonderse wyse vereer.

Hierdie toekennings, waardeur werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het Donderdagaand 5 Desember in Pretoria, plaasgevind.

Berné Grobler het Solidariteit se gesogte #Kantoorkampioen-toekenning met groot opwinding en geesdrif ontvang.

“Ek is heeltemal oorweldig hiermee. Sjoe, dankie Solidariteit en dankie aan my span. Sonder my span kan ek nie hierdie doen nie – dit is ʼn berg wat ons saam geklim het.”

Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, sê Berné lewer vir meer as drie dekades ʼn onmiskenbare bydrae tot haar beroep. “Deur effektiewe kommunikasie en georganiseerde beplanning verseker sy dat elke projek, groot of klein, vlot verloop,” sê Smit.

Met hierdie toekenning word haar harde werk en deursettingsvermoë nie net erken nie, maar ook gevier – ʼn ware baken van hoop vir almal wat saam met haar werk.

Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.

Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys. Die Solidariteit Ambagnetwerk se wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma; die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous; die #JongYster-wenner is Daru Pretorius en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.

In die onderskeie kategorieë in die Solidariteit Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius; en Johan Nolte is as Hoërskoolonderwyser van die Jaar aangewys.

Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: Dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk; dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.

Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gewerk is. ʼn Skenking van meer as R19 miljoen is aan die Solidariteit Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.

Nóg ʼn skenking van meer as R30 miljoen is aan Solidariteit se opleidingsinstellings oorhandig om op dié manier nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel