loading
avatar
Artikels
2 weke gelede
kolonel-bevorder-tot-brigadier-danksy-solidariteit

Foto Krediet: ChatGPT

Kolonel bevorder tot brigadier danksy Solidariteit

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit het nóg ʼn belangrike oorwinning vir ʼn lid in die openbare sektor behaal nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ten gunste van kol. Vanilla Tresa Dewkie beslis het in ʼn bevorderingsgeskil teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Die KVBA het bevind die SAPD het onbillike arbeidspraktyk gepleeg toe kol. Dewkie nie tot een van twee brigadiersposte binne die Organisatoriese Ontwikkelingsomgewing bevorder is nie, ondanks haar uitgebreide ervaring, kwalifikasies en dekades lange diens binne die SAPD.

Volgens Theunis van Staden, organiseerder van Solidariteit se openbare sektor, stuur die uitspraak ʼn duidelike boodskap oor die belangrikheid van billike bevorderingsprosesse.

“Werknemers behoort vertroue te hê dat bevorderings op meriete geskied. Wanneer prosedures nie gevolg word nie en objektiewe maatstawwe geïgnoreer word, word werknemers se loopbane en toekoms benadeel. Hierdie uitspraak bevestig die beginsel van billikheid in die werkplek,” sê Van Staden.

Die geskil het ontstaan nadat kol. Dewkie onsuksesvol was in haar aansoek om bevordering tot die rang van brigadier. Sy het aangevoer haar jare se ervaring in Organisatoriese Ontwikkeling en Werkstudies, tesame met haar relevante opleiding, kwalifikasies en institusionele kennis het haar besonder geskik vir die pos gemaak.

Solidariteit het tydens die arbitrasie aangevoer die SAPD se bevorderingsproses was beide prosedureel en substantief gebrekkig. Die vakbond het verskeie onreëlmatighede uitgewys, waaronder inkonsekwente puntetoekenning tydens assesserings, ernstige tekortkominge in die kortlys- en keuringsproses, die aanvaarding van irrelevante kwalifikasies vir sekere kandidate, asook berekeningsfoute wat die finale uitslag beïnvloed het.

Daar is ook aangevoer dat kol. Dewkie se uitgebreide ervaring en toepaslike opleiding nie behoorlik verreken is nie, terwyl die uiteindelike besluit nie rasioneel geregverdig kon word toe die kandidate se kwalifikasies en ervaring objektief vergelyk is nie.

Kommissaris Frank Naidoo het, ná oorweging van die getuienis, bevind ernstige onreëlmatighede en irrasionaliteit het die proses gekenmerk. Hy het verder bevind kol. Dewkie is benadeel as gevolg van die wyse waarop die SAPD die bevorderingsproses bestuur het.

Die KVBA het gevolglik gelas dat kol. Dewkie tot die rang van brigadier op salarisvlak 13, met volle voordele, bevorder moet word.

Van Staden sê die uitspraak moet as waarskuwing vir werkgewers dien.

“Geen werknemer behoort deur ʼn gebrekkige of irrasionele proses van loopbaanbevordering ontneem te word nie. Solidariteit sal voortgaan om lede by te staan waar billikheid, meriete en behoorlike administrasie nie gehandhaaf word nie,” sê hy.

Volgens Van Staden bevestig die uitspraak opnuut die verantwoordelikheid van staatsinstellings om bevorderingsprosesse op ʼn billike, rasionele en konsekwente wyse toe te pas.

“Dit beklemtoon ook die belangrike rol wat onafhanklike geskilbeslegtingsliggame speel om werknemers teen onregmatige arbeidspraktyke te beskerm.

“Vir Solidariteit vorm hierdie saak deel van ʼn groeiende reeks suksesvolle uitsprake waarin SAPD-lede ondersteun word in hul stryd teen onbillike bevorderingsprosesse,” sluit hy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel