Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Krugerdag vieringe regoor SA – Oom Paul is veilig tuis
Deur Marné Pienaar
Regoor Suid-Afrika het die “groot trek” van die splinternuwe ewebeeld van die Krugerstandbeeld na sy nuwe tuiste in Orania groot opwinding veroorsaak. Presies 200 jaar ná die geboorte van die oudpresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Paul Kruger, vier ons nie net sy verjaardag nie, maar ook die langverwagte aankoms van sy beeld by sy nuwe tuiste wat die stadskern van Orania gaan vorm.

Op 24 September 2025, Erfenisdag, het die vloot met hierdie standbeeld vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek. Die beeld het deur die land getoer en betyds vir Kruger se verjaardag sy bestemming bereik. Lees hier meer oor waarom die Krugerbeeld nou in Orania pronk.
Kruger se impak en leierskap weerklink steeds 200 jaar later, en dit is gepas dat ons helde soos hy kan vereer. Dit is immers Kruger se wyse woorde wat lui, “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.” Dit bly ons plig en ons voorreg om ons Afrikanerhelde te herdenk.
Krugerdag, ook bekend as Heldedag, gaan egter oor soveel meer as net die herdenking van Paul Kruger se verjaardag. Dit bied vir ons die geleentheid om oor ons verlede te besin, oor die heldedade wat ons geskiedenis en kultuurerfenis gevorm het, en om ook onsself binne daardie groter prentjie te kan plaas.
Gebruik hierdie dag om weer oor jou geskiedenis te dink; om te onthou dat die bloed wat deur jou are vloei, en die heldedade van jou voorouers hierdie land vir jou gekoop het.
Ons erfenis word dikwels verwoes, verniel, gevandaliseer, ontken en geminag. Jóú erfenis en kultuur is in gedrang – jou wese, menswees en toekoms is in gedrang! Daarom is dit van kardinale belang dat ons dae soos Heldedag, Erfenisdag, Geloftedag en al die talle ander herdenkingsgeleenthede en slagvelde van ons geskiedenis bly herdenk.
Kruger bly vir ons ʼn simbool van hoop – ʼn simbool van durf en daad, mannemoed, deursettingsvermoë en visie.
Trots kyk Oom Paul nou uit oor die oop veld wat binnekort Orania se stadskern gaan wees. Alhoewel die oorspronklike Krugerbeeld steeds trots op Kerkplein staan, lui hierdie beeldonthulling ook ʼn nuwe era in – ʼn era waarin ons ons erfenis terugneem. ʼn Era waar Afrikaners nie meer terugstaan nie. ’n Era waar ons stewig geplant bly staan op die vaste fondament wat ons voorouers vir ons voorberei het, en daarop voortbou!
Geluk, Oom Paul. Ons sal nie vergeet nie.