Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Krugersdorper deur Solidariteit as top-kleuterskooljuffrou aangewys
Deur Heléne Mocke
Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het buitengewone mense in hul beroep op ʼn besonderse wyse vereer.
Hierdie toekennings, waardeur werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het Donderdagaand 5 Desember in Pretoria, plaasgevind.
Lerine Roberts van Norie-nes Kleuterskool is met trots aangewys as Solidariteit se Kleuterskoolonderwyser van die Jaar aangewys. Sy is ʼn passievolle opvoeder vir 2- tot 3-jariges in die Vissie-klas.
“Ek het nooit oor my beroep getwyfel nie,” sê Lerine. “Dit is ʼn groot verantwoordelikheid om die fondasie van ons toekoms neer te lê. Elke dag bied ʼn nuwe geleentheid om ʼn verskil te maak in ʼn klein mensie se lewe.”
Vir Lerine is haar beroep nie net ʼn werk nie, maar ʼn roeping.
“Om ʼn juffrou te wees maak my glas vol; ek leef my passie elke dag uit,” sê sy.
Wanneer sy nie besig is met haar kleingoed nie, geniet sy tyd saam met familie, vriende en die natuur.
Haar droom is om eendag haar eie kleuterskool te begin, waar sy selfs ʼn groter impak kan hê en waar sy ook werksgeleenthede aan ander mense met ʼn liefde vir kinders kan bied. “Ek is ʼn juffrou met ʼn liefde vir wat ek doen, nie omdat ek dit gekies het nie, maar omdat God my gekies het, en daarvoor is ek oneindig dankbaar,” verduidelik sy.
Anlia Archer, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk sê Lerine se toewyding en inspirasie maak van haar ʼn waardige wenner en ʼn voorbeeld vir ander opvoeders.
Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.
Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys. Die Kantoorpraktisynsnetwerk se #Kantoorkampioenwenner vir 2024 is Berné Grobler; die Solidariteit Ambagnetwerk se drie wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma; en die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous. Die #JongYster is Daru Pretorius en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.
In die onderskeie kategorieë in die Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius. Johan Nolte is as die wenner in die kategorie, Hoërskoolonderwyser van die Jaar, aangewys.
Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk; dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.
Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gewerk is. ʼn Skenking van meer as R19 miljoen is aan die Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.
Nog ʼn skenking van meer as R30 miljoen is aan Solidariteit se opleidinginstellings oorhandig om op dié manier nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.