loading
Artikels
2 weke gelede
kry-so-die-vergoeding-wat-jy-verdien

Foto Krediet: OkayDeer

Kry só die vergoeding wat jy verdien

Deur Nico Strydom

Werplekgesprekke oor vergoeding en salarisverhogings kan uiters senutergend wees, maar dit is noodsaaklik ten einde te verseker dat jou waarde regverdig erken en beloon word.

“Die eerste stap wat jy moet neem, is om jou vrees vir die gesprek te oorkom,” sê Advaita Naidoo, besturende direkteur van die werwingsfirma Jack Hammer in Afrika. “Die vrees vir verwerping is egter baie groot, veral in die huidige ekonomiese klimaat waar begrotings knap is.” 

Volgens Naidoo is gesprekke oor vergoeding en verhogings meer as net ʼn onderhandeling. “Dit is ʼn geleentheid om jou waarde te benadruk, duidelikheid te soek en kreatiewe oplossings te vind wat jou sowel as jou werkgewer bevoordeel. Dit gaan nie net daaroor om vir meer geld te vra nie; dit gaan daaroor om wedersyds voordelige oplossings te vind. Dit is in jou werkgewer se beste belang om te verseker dat jou bydrae erken en billik vergoed word, nes dit in jóú eie belang is.”

Naidoo meen dit is belangrik om ʼn oop tweerigtinggesprek te hê, waar die behoeftes en beperkings van beide partye bekend gemaak word. “Hierdie benadering sal help om spanning te verminder en ʼn positiewe, wedersyds voordelige uitkoms moontlik te maak.”

“Dit is noodsaaklik om die waarde wat jy vir jou onderneming bring, te erken en te verwoord,” sê Naidoo. “Dit behels die besonderhede van jou prestasies, die kwantifisering van die impak wat jy maak en om te demonstreer hoe jou werk die maatskappy bevoordeel.”

Voorbereiding is ook van kardinale belang vir suksesvolle onderhandelinge. “Dit sluit in om bedryfstandaarde te ondersoek, om dit wat jy wil sê behoorlik voor die tyd te oefen en om vir moontlike vrae en teenargumente voor te berei.”

Dit kan wel ook die geval wees dat jou maatskappy weens finansiële beperkings nie tans ʼn salarisverhoging kan akkommodeer nie. “Daarom moet jy ook alternatiewe opsies in plek hê wanneer jy onderhandel. Dit kan insluit prestasieverwante bonusse, ekstra toelaes vir verdere studies of projekgebaseerde aansporings wat waarde tot die maatskappy toevoeg. Verder kan meer buigsame werksomstandighede ook ʼn opsie wees.”

Volgens Naidoo kan verhoogde emosies jou oordeel tydens onderhandelinge vertroebel. “Dit is noodsaaklik om ʼn kliniese benadering te volg, wat fokus op die spesifieke waarde wat jy bied en die oplossings wat beide partye bevoordeel. Stel kreatiewe oplossings voor wat vir jou waardevol is, maar wat die maatskappy nie baie sal kos nie.”

Dit is ook belangrik om voorbereid te wees op die moontlikheid dat jou versoek afgekeur kan word. “As die scenario wel realiseer, is dit belangrik om kalm te bly en duidelikheid te soek. Vra vir spesifieke terugvoer oor wat jy moet doen om ʼn verhoging te verdien en onder watter omstandighede ʼn verhoging beskikbaar kan wees. Hierdie benadering sal jou help om die maatskappy se perspektief te verstaan ​​en kan lei tot ʼn duideliker pad vorentoe,” sê Naidoo.

Solidariteit wil jou in die werkplek beskerm en jou met die nodige ondersteuning bemagtig om suksesvol in jou beroep te kan wees. Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by jou grootste aanlyn gemeenskap van werk – in Afrikaans!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel