Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
3 jaar gelede
kubane-aangestel-teen-baie-hoer-koste-as-sa-ingenieurs

Foto Krediet: Solidariteit

Kubane aangestel teen baie hoër koste as SA ingenieurs

Solidariteit het vandag nuwe inligting oor die invoer van Kubaanse ingenieurs bekendgemaak. Van die inligting wys dat die Kubaanse ingenieurs wel werkskontrakte het en tot R300 000 per jaar méér as Suid-Afrikaanse ingenieurs betaal word.

 

Deel van hulle vergoeding is omvattende byvoordele wat insluit vlugkaartjies vir vakansie na Kuba, gemeubileerde verblyf, kos en telefoonkoste.  Dit is ten spyte van die feit dat die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in die openbaar gesê het dat die Kubaanse ingenieurs nie werknemers is en nie ʼn salaris gaan ontvang nie.

 

Solidariteit het ook tydens ʼn mediakonferensie gesê dat hy nou voldoende inligting het om voort te gaan met sy hersieningsaansoek om die besluit van die minister ongeldig te laat verklaar. Die hofstryd gaan dus nou na ʼn nuwe vlak geneem word.

 

Solidariteit het ook die Kubane se kontrakte bekendgemaak wat wys dat hulle wel ingenieurswerk gaan doen en nie bloot, soos die minister gesê het, as mentors gaan optree nie. Solidariteit het ook bewys dat die Kubaanse ingenieurs nie voldoen aan die Suid-Afrikaanse vereistes vir registrasie en lisensiëring nie.

 

Solidariteit wys ook dat die belastingbetaler eerder ongeveer R75 miljoen vir die projek gaan opdok en nie R64 miljoen soos gesê is nie.

 

“Daar is nou geen twyfel nie dat Kubaanse ingenieurs wel die werk van Suid-Afrikaanse ingenieurs gevat het en meer daarvoor betaal word, en dat belastingbetalers meer moet betaal as wat aanvanklik gesê is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

 

Volgens Hermann dui die inligting van die departement daarop dat hulle die publiek deurlopend mislei het met betrekking tot die aard, omvang en koste van die projek.

 

Die inligting wat Solidariteit tydens die konferensie bekendgemaak het, sluit die volgende in:

 

  1. Die Kubaanse ingenieurs is werknemers

 

Volgens Solidariteit is dit verregaande dat die minister oral in die openbaar aangekondig het dat die Kubane nie hier is om te werk of as werkers sal optree nie. Sy het selfs by geleentheid verduidelik dat die Kubaanse ingenieurs nie ʼn salaris sal ontvang nie.

 

“Die feit is dat ons nou oor ʼn dienskontrak beskik wat met elkeen van hierdie ingenieurs gesluit is. Dit, tesame met die bilaterale ooreenkoms, dui salarisse, verlofdae, posvlak en ʼn ongekende lys van voordele aan wat die ingenieurs sal geniet terwyl hulle hier is,” sê Hermann.

 

  1. Die werklike koste van die projek en waarvoor belastingbetalers alles moet opdok

 

“Terwyl hulle in hulle hofstukke aanvoer dat die koste van die projek slegs sowat R61 miljoen sal beloop, is dit baie duidelik vanuit ons eie deskundige berekeninge dat die projek veel nader aan ongeveer R75 miljoen gaan kos,” sê Hermann.

 

“Behalwe vir hulle salarisse word daar van die belastingbetaler verwag om verskeie voordele ook te befonds. Onder andere: vlugte sodat hulle op vakansie terug na Kuba kan gaan terwyl hulle hier in diens is; alle kostes om hulle hierheen en terug te vlieg; gemeubeleerde verblyf; kos en klere; vervoer; internet, selfone en ekstra geld om per landlyn oproepe na Kuba te maak; en nog vele meer. Dit is ʼn absurde klap in die gesig vir ons plaaslike ingenieurs wat gewoon net werk soek en nie eens kan droom van sulke voordele nie,” verduidelik Hermann.

 

  1. Die tipe werk wat die Kubaanse ingenieurs in SA gaan doen

 

Die departement voer nou al ʼn geruime tyd aan dat die ingenieurs slegs hier is om sogenaamde “mentorskaprolle” te vervul en nie om ingenieursdienste te lewer nie. Solidariteit verduidelik dat die departement se eie stukke, sowel as die bilaterale ooreenkoms met Kuba dit baie duidelik stel dat die Kubane hier is om ingenieurswerk te kom doen, ten spyte van die feit dat die Kubane nie geregistreer is om sodanige werk in Suid-Afrika te kan doen nie.

 

  1. Of die ingenieurs geregistreer is en of hul moet wees

 

Ondanks die departement se besware dat dit nie nodig is vir die Kubane om te registreer om hier te werk nie, weerspreek hulle hierdie punt telkemale in die inligting wat aan Solidariteit ontbloot is.

 

Volgens Solidariteit is dit duidelik dat die departement gepoog het om die Kubane te laat registreer, maar later weens administratiewe probleme eerder daarteen besluit het. Verder, beduie die departement dat al die Kubaanse ingenieurs deurlopend onder die toesig van ʼn geregistreerde ingenieur sal werk.

 

“Die departement sukkel verskriklik om met hulle eie misleidende verhale tred te hou. Mens moet in ag neem dat hierdie tipe oorsig volgens wet beteken dat die Kubaanse ingenieurs onder konstante oorsig sal moet werk. Dit terwyl gekwalifiseerde Suid-Afrikaners hul hande opsteek, maar geïgnoreer word,” voer Hermann aan.

 

  1. ‘n Vergelyking van verskeie bilaterale ooreenkomste met ander lande en dié met Kuba

 

Terwyl daar baie gemaak word van die onderskeie bilaterale ooreenkomste wat die departement met ander lande sluit, word dit ongelooflik duidelik, volgens Solidariteit, dat die ooreenkoms met Kuba enig in sy soort is.

 

“Ons het verskeie ooreenkomste deurgewerk – met Nederland, Hongarye, Denemarke, Japan en Italië. Bo en behalwe die feit dat hierdie ooreenkomste telkens sowat helfte van die lengte van ons ooreenkoms met Kuba is, is die aard daarvan ook totaal en al anders,” sê Hermann. “Waar ons ooreenkomste met ander lande hoofsaaklik handel oor die uitruil van tegnologie en idees, is die ooreenkoms met Kuba die enigste een wat in baie fyn besonderhede elke liewe punt betreffende indiensname van die ander land se burgers bespreek.”

 

Solidariteit voer verder aan dat dit duidelik vanuit hul hofstukke is dat die departement nooit ʼn daadwerklike poging aangewend het om hierdie poste te adverteer nie, ten spyte van die minister se bewerings dat daar gewoon net nie Suid-Afrikaners is wat die werk wou hê nie.

 

“Soortgelyke projekte is al deur die departement en Kuba vir meer as 19 jaar gedryf en intussen sien ons net hoe ons waterinfrastruktuur verder agteruitgaan. Boonop het die pandemie die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika net verder vererger. Dit is ʼn skande dat ons regering ons eie werkers so in die steek laat,” verduidelik Hermann. “Die departement is arrogant en beledigend teenoor ons eie werkersmag. Hulle sal eerder mislei en inligting probeer wegsteek as om Suid-Afrikaners te help. Ons moet hierdie irrasionele en onwettige besluit ten sterkste beveg,” sluit Hermann af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel