loading
Artikels
1 jaar gelede
kubermisdaad-impak-op-welstand

Foto Krediet: Pexels

Die impak van kubermisdaad op werknemers se welstand

Deur Nico Strydom

Kubermisdaad is nie net sleg vir besigheid nie, maar werknemers betaal ook ʼn prys daarvoor.

Navorsers het ʼn verband tussen kubermisdaad en werknemers se gesondheid en welstand geïdentifiseer,” sê Gerhard Swart, hooftegnologiebeampte by die kuberveiligheidsmaatskappy Performanta.

“Stres, vrees en onsekerheid lei tot swak gesondheid, soos uitbranding, hipertensie, beroertes en posttraumatiese stresversteuring en hierdie bekommernisse verg aandag. Hierdie situasie is ook nie tot die IT-sekuriteitspanne by werkplekke beperk nie, al is hulle die mense wat onder die grootste druk verkeer. Die verantwoordelikhede rakende kuberveiligheid, teleurstelling wanneer ʼn aanval nie voorkom kon word nie, en die algemene onsekerheid rondom kuberrisiko’s raak alle werknemers by alle organisasies.”

Die spanne wat hoofsaaklik vir kuberveiligheid verantwoordelik is, is veral onder geweldige druk. “Hulle is die laaste verdedigingslinie en ʼn paar foute kan hul maatskappy groot skade berokken. Dit is húlle wat moet sin maak uit ingewikkelde stelsels en ʼn rits sekuriteitswaarskuwings. Maar die druk van kuberveiligheid word ook deur ander personeel gevoel aangesien hierdie kuberveiligheidspanne almal se ondersteuning benodig en almal dus daardie druk tot ʼn sekere mate voel.”

Volgens Swart vorm mense die beste verdedigingslinie teen moontlike kuberbedreigings omdat hulle vreemde en ongewone aktiwiteite kan raaksien.” “Hulle ervaar ook die stres van hierdie verantwoordelikheid. Daar is vier hoofmaniere waarop kuberrisiko’s werknemers se gesondheid beïnvloed: waaksaamheid, ʼn gevoel van beleg, mislukking en hul moraal.”

“Waaksaamheid” is om op die uitkyk te wees vir kubermisdaadpogings. Alhoewel dit ʼn uitstekende manier is om suksesvolle aanvalle te voorkom, verg dit fokus en toewyding, sê Swart. “Hierdie voortdurende waaksaamheid kan sy tol eis, veral as die maatskappykultuur baie streng is oor sulke foute.”

“Beleg” verwys na wanneer kubermisdadigers ʼn spesifieke werknemer teiken, gewoonlik deur middel van vals e-posse wat gebruikers mislei om tot die verkeerde optrede oor te gaan. “Dit is bekende taktiek om groot winste te belowe of groot rampe te voorspel wat die persoon dan uitlok om op ʼn skakel te klik wat kwaadwillige sagteware in die geheim installeer.”

“Mislukking” volg wanneer ʼn beleg suksesvol was. “Iemand is onwetend gedwing om ʼn kuberaanval te bewerkstellig. Daardie persoon sal waarskynlik skuldig voel weens sy of haar oënskynlike mislukking om nie die waarskuwingstekens raak te gesien het nie. ʼn Korporatiewe kultuur waar die blaam op een persoon gepak word, kan die situasie vererger. Sommige studies dui daarop dat tot ʼn kwart van hierdie slagoffers afgedank word of van werk verander het.”

Probleme rakende die moraal van werknemers kan ook baie skade veroorsaak. “Mense belê hul tyd en verstand in hul werk, en ontwrigtings kan hul vermoë om te presteer ernstig beïnvloed. As ʼn kuberaanval plaasvind, sal dit bedrywighede en projekte tot ʼn stilstand bring, wat stres onder daardie spanne verhoog. Swak kommunikasie oor die aanval lei tot verdere stres, onsekerheid en twyfel oor hul werk of die organisasie se toekoms. Diegene wat direk met kliënte werk, moet dikwels versigtig te werk gaan om moeilike vrae te beantwoord om reputasieskade te probeer versag.”

Swart meen ingrypings en gesprekke is nodig om die impak van kubermisdaad op werknemers se welstand te verminder. “Die belangrikste stap is om weg te beweeg van ʼn kultuur van blaam na een wat samewerking aanmoedig. Jy sal nie ver kom as jou mense bang is om enige verdagte gebeure aan te meld, oftewel te klik nie, ʼn verskynsel wat klikverlamming genoem word. Daar is die versoeking om dadelik vinger te wil wys na wie die skuld moet kry, maar ʼn aanval is selde so eenvoudig. Foute word gemaak, en behoorlike sekuriteitstelsels sal daardie foute ondervang. Gereelde sekuriteitsopleiding en -toetsing sal help om ʼn standaard te stel, terwyl ʼn ondersteunende houding jeens kubermisdaadslagoffers werknemers se ontslag en onnodige skade aan hul moraal kan verhoed.”

Dit is ook belangrik om goeie kommunikasie te vestig en te verseker dat kuberveiligheidspanne goed toegerus is en ondersteun word. “Gelukkige werknemers maak ʼn maatskappy sterker. Maar die vrees, onsekerheid en twyfel wat die moontlikheid van kubermisdaad tot gevolg kan hê, kan dit wegkalwe.”

Solidariteit se IT-netwerk is jou loopbaanvennoot wat beroepspesifieke voordele bied en seker maak jy bly op hoogte van nuus in jou veld.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel