Gekopieër
Kunsmatige intelligensie – werkers se vriend of vyand?
Deur Wilma Bedford
Kunsmatige Intelligensie (KI) is die jongste tegnologie-gesprekpunt danksy ChatGPT, wat sedert die bekendstelling daarvan in November verlede jaar hoogty vier. Die kletsbot wat deur KI gedryf word en deur OpenAI geskep is en deur Microsoft gerugsteun word, het beide beïndruk en geskok weens sy vermoë om vrae te beantwoord, opstelle te skryf en selfs regsake te argumenteer. GPT-4 kan nou die balie-eksamen, die professionele kwalifikasie vir prokureurs, suksesvol aflê, alhoewel dit steeds foute maak en waninligting kan deel.
Volgens ʼn studie deur Statista is die globale KI-mark daarop ingestel om elke jaar met soveel as 54% te groei. Namate hoofopskrifte toeneem oor robotte wat mense se werk oorneem, meld sommige werkers dat hulle angstig begin voel oor hulle toekoms en of die vaardighede waaroor hulle beskik in die toekoms relevant sal wees.
Baie kundiges stem saam dat ʼn aantal beroepe binne die volgende vyf tot 10 jaar geheel en al geoutomatiseer sal wees. Sedert 2000 het robotte en outomatiseringstelsels geleidelik baie betrekkings in die vervaardigingsbedryf uitfaseer – 1.7 miljoen daarvan. Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum se “The Future of Jobs Report 2020” word verwag dat KI teen 2025 wêreldwyd 85 miljoen betrekkings sal vervang. Dit word egter voorspel dat KI in dieselfde tydraamwerk 97 miljoen betrekkings sal skep.
Vaardighede waaroor KI nie beskik nie
Op hierdie tydstip word wyd geglo dat KI nie in staat sal wees om sommige betrekkings te repliseer nie, vanaf kreatiewe velde tot by empatiese betrekkings sowel as komplekse en strategiese betrekkings. Dit sluit onderwysers, skrywers, redakteurs, prokureurs, maatskaplike werkers, mediese beroepslui, terapeute en bestuurberoepslui in. KI en robotte kan nie die empatie en sosiale intelligensie repliseer wat hierdie velde vereis nie. Betrekkings waarby skryf betrokke is, kan baat vind by KI-inhoudsopwekkers, maar hierdie gereedskap besit steeds tekortkomings ten opsigte van akkuraatheid en waninligting, dus is dit onwaarskynlik dat hulle mensskrywers sal vervang.
Vier basiese swakhede van KI wat dit daarvan sal weerhou om sekere betrekkings oor te neem is komplekse strategiese beplanning, werk wat fyn hand-oogkoördinasie vereis, die hantering van onbekende en ongestruktureerde ruimtes, en die gebruik van empatie.
Volgens Dan Platt, ʼn senior prinsipaal van mark-innovering by die KI-maatskappy Narrative Science, “… is daar die oorweldigende gevoel dat namate ons meer waarde uit rekenaars en KI kry, mense minder belangrik word, maar ek sien dit nie so nie. Vir die voorsienbare en onvoorsienbare toekoms sal jy steeds kontrakteurs en loodgieters en elektrisiëns en venster-installeerders benodig – almal betrekkings wat uiters belangrik is en waarsonder die wêreld nie kan funksioneer nie.”
Menslike aanraking
Werkers in vele betrekkings wat menslike aanraking benodig, sal steeds in aanvraag bly. Alhoewel KI gereed is om baie nywerhede by te staan, sal mens-tot-menskonneksie in die werkplek altyd nodig wees. Die vraag na werkers, veral in robotika en sagteware-ingenieurswese, sal na verwagting danksy KI ook styg.
Gigaom HUB Byron Reese glo dat baie betrekkings groei sal ervaar, nie ten spyte van KI nie maar daardeur. “Net soos met die internet sal die ware winste in betrekkings vanuit plekke kom waar ons verbeeldings ons nog nie kan neem nie.”
Opknapping van vaardighede
Alhoewel daar debatteerbare voor- en nadele aan kunsmatige intelligensie verbonde is, kan die impak daarvan op die globale industrie nie betwyfel word nie. Dit groei steeds elke dag, en dryf volhoubaarheid vir besighede. Dit vereis beslis die noodsaaklikheid van KI-geletterdheid en die opknapping van vaardighede om in baie “new age”-betrekkings te floreer.
Amazon het aangekondig dat hy ʼn derde van sy 300,000-sterk arbeidsmag gaan behou, teen ʼn koste van $700 miljoen. Deelname aan ʼn program wat die maatskappy “Upskilling 2025” noem, is vrywillig. Dit is geskep om werknemers vaardighede te leer wat hulle in tegniese rolle binne en buite Amazon kan toepas.
Beroepsopleiers en MH-kundiges sê dat alhoewel angs in ʼn mate geregverdig mag wees, werknemers moet fokus op dit wat hulle kan beheer. In plaas daarvan om paniekbevange te raak oor die moontlikheid dat hulle hulle werk aan masjiene sal moet afstaan, moet hulle daarin belê om te leer hoe om sy aan sy met tegnologie te werk. As hulle dit as ʼn hulpbron behandel en nie as ʼn bedreiging nie, voeg die kundiges by, sal hulle hulself meer waardevol vir potensiële werkgewers maak – en minder angstig voel.
PwC se Scott Likens, wat spesialiseer in die begrip van kwessies rakende vertroue en tegnologie, glo ook dat met die regte stel vaardighede individue dikwels in staat is om aan die sy van hierdie vorderings vooruit te gaan. “Om minder angstig te voel oor die snelle aanvaarding van KI, moet werknemers die tegnologie inneem. Opvoeding en opleiding is die sleutel vir werknemers om oor KI te leer en wat dit vir hulle in hulle spesifieke rolle kan doen, sowel as om hulle te help om nuwe vaardighede te ontwikkel. In plaas daarvan om van KI weg te skram, moet werknemers beplan om dit te omhels en dit aan te leer.”
Outomatisering word oordryf
Navorsing in November 2022 deur sosiologie-professor Eric Dahlin by Brigham Young University in Utah, VS, toon dat nie alleen vervang robotte nie mense teen die koers wat meestal geglo word nie, maar sommige mense neem ook die koers waarteen outomatiseringsgereedskap oorneem, verkeerdelik waar. Sy data toon dat ongeveer 14% van werknemers gesê het dat hulle gesien het hoe ʼn robot hulle werk vervang. Maar werkers wat werkverlies ervaar het weens tegnologie sowel as diegene wat nie dit nie ervaar het nie, was geneig om die tempo en volume van die tendens te oorskat – hulle skattings was ver van die werklikheid af.
Mens-masjien-samewerking
Ons as mense moet die positiewe aspekte van KI gebruik om ʼn beter wêreld te skep. Kunsmatige intelligensie hou massiewe potensiële voordele in. Die mens se belangrikste rol is om te verseker dat die opkoms van KI nie handuit ruk nie. ʼn Dieper studie van bewussyn is ook dringend en nodig. Dit is beklemtoon deur Geoffrey Hinton, die stigter en “Peetpa” van KI, toe hy in April sy bedanking by Google aangekondig het, met die stelling dat ʼn bewustheid geskep moet word dat vooruitgang in hierdie veld onmeetbare risiko’s vir die samelewing en die menseras inhou. Hy het onder andere verwys na werksverlies, die verspreiding van waninligting en bose rolspelers wat dit sal kan gebruik om bose dinge te doen. Hy glo dat die stelsels wat ontwikkel word en dié wat alreeds in plek is, op sommige maniere alreeds menslike intelligensie oorskadu weens die hoeveelheid data wat hulle analiseer.
Die groeiende momentum van KI vereis ʼn diverse, hervormde arbeidsmag om dit te ondersteun en te gradeer. Die toekoms van KI hang af van mens-masjien-samewerking en die imperatief om talent en werkswyses te hervorm.
Stefanie Coleman, ʼn prinsipaal in die konsultasiemaatskappy EY se raadgewende dienstebedryf, wys daarop dat ʼn kombinasie van mense en robotte altyd sal moet bestaan.
“Die mens sal altyd ʼn rol in besigheid speel deur die belangrike werk te doen wat robotte nie kan doen nie. Hierdie tipe werk vereis tipies ingebore menslike eienskappe, soos die bou van verhoudings, kreatiwiteit en emosionele intelligensie,” sê sy. “Erkenning van die unieke waarde van mense in die arbeidsmark, wanneer met masjiene vergelyk word, is ʼn belangrike stap in die navigering van vrese wat hierdie onderwerp omring.”
Solidariteit wil nie hê dat mense bloot moet werk nie; ons wil hê hulle moet goed werk. Dit beteken jy is gelukkig in jou werk, word regverdig behandel en nie teen gediskrimineer nie. Binne die volgende jaar sal Solidariteit ʼn opwindende nuwe fase betree met ʼn splinternuwe platform wat jou een-stopplek sal word vir alles wat jy oor jou loopbaan moet weet. Bly op hoogte!