loading
Artikels
1 maand gelede
lesufi-hulle-se-jammer-maar-geld-vir-welsyn-is-steeds-soek

Foto Krediet: Okay Deer

Lesufi-hulle sê jammer, maar geld vir welsyn is stééds soek

Deur Heléne Leonard

Solidariteit is allermins tevrede met die onlangse verskonings wat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Faith Mazibuko, aan welsynsorganisasies gestuur het. Solidariteit sê die verskoning verander niks aan die krisis wat talle welsynsorganisasies ervaar, wat stééds na menigte klagtes en maande lange dreigemente op hul geld wag nie.

Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk moes hoor dat drie en twintig welsynsorganisasies se sakeplanne onder die staat se administrasie verlore geraak het en dat ses organisasies nie eens in die stelsel gevind kan word nie.

“Daar is duidelik groot administratiewe wanorde binne dié departement. Hierdie situasie is veral kommerwekkend omdat dit ʼn direkte impak op kwesbare gemeenskappe het wat op hierdie dienste staatmaak,” sê Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Die ondersoek na dertien organisasies vir wanadministrasie en die sluiting van ses ander omdat hulle nie aan die departement se vereistes voldoen nie, onderstreep die behoefte aan groter deursigtigheid en beter bestuur binne dié sektor.

Erasmus sê deursigtigheid is noodsaaklik om te verseker dat fondse verantwoordelik gebruik word en om toe te sien dat hierdie fondse beskikbaar gestel word.

“Die staat moet sy verbintenis tot die ondersteuning van welsynsorganisasies nie net in woorde nie, maar deur dade toon. Die huidige stelsel is duidelik nie voldoende nie, en ons kan nie bekostig om nóg ʼn jaar vir verandering te wag nie.

“Welsynsorganisasies speel ʼn kardinale rol in die gemeenskap, en dit is noodsaaklik vir die staat om ʼn stabiele en volhoubare sektor daar te stel,” sê Erasmus.

Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk neem aktief deel aan die beskerming van die sektor en poog om te verseker dat die belange van welsynsorganisasies beskerm word.

Ondanks die tekortkominge van die staat sê Erasmus dat Solidariteit in selfdoen-beginsels glo. Hulle nooi ook maatskaplike werkers uit om deel van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk te word sodat hulle behoeftes en bekommernisse aangespreek kan word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel