loading
Artikels
11 uur gelede
regspraktisynsraad-sloer-opsetlik-met-sy-antwoorde-oor-afrikaans-as-eksamentaal

Foto Krediet: Okay Deer

Regspraktisynsraad sloer opsetlik met sy antwoorde oor Afrikaans as eksamentaal

Deur Heléne Mocke

Die Solidariteit Regsnetwerk glo die Regspraktisynsraad (RPR) vertraag doelbewus gesprekke oor Afrikaanse toelatingseksamens om sodoende eers ná die aanwysing van die RPR se nasionale raad weer te onderhandel.

Hierdie vertraging hou verband met ʼn klag wat Solidariteit teen die RPR by die Inligtingsreguleerder (IR) ingedien het, ná die RPR versuim het om op Solidariteit se versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te reageer.

Solidariteit het spesifiek inligting aangevra oor die besluit van die RPR om Afrikaans as eksamenmedium te skrap. Ondanks verskeie skrywes wat vanjaar aan die RPR gerig is, en herhaalde pogings om sinvolle gesprekke te voer, blyk dit die RPR talm doelbewus om aan enige deursigtige gesprek deel te neem.

Sou ʼn nuwe raad aangewys word, sal hierdie proses moontlik van voor af begin.

Volgens Riaan Visser, hoof van die Solidariteit Regsnetwerk, is die RPR kwansuis bereidwillig, maar eerder ontwykend om met Solidariteit in gesprek te tree. Dit lyk na ʼn blote strategiese vertragingsproses om tyd te mors.

“Die aanvanklike versoek wat aan die RPR gerig is, het op die RPR se besluitnemingsproses gefokus, veral die redes vir die uitfasering van Afrikaans as eksamenmedium,” sê Visser.

“Solidariteit het in elke skrywe beklemtoon hoe dringend hierdie kwessie is en het herhaaldelik aangedring op ʼn vinnige vergadering met die RPR om die aangeleentheid op te los,” sê hy.

Volgens hom het die RPR die gesprekke, en nou óók die Paia-versoek, geïgnoreer. Gevolglik het Solidariteit ʼn klag by die IR ingedien met die hoop dat dit die RPR sal dwing om op dié versoek te reageer. “Hierdie versoek sluit die beskikbaarstelling van alle relevante dokumentasie in, soos notules, sakelyste van vergaderings en ʼn lys van belanghebbendes wat geraadpleeg is tydens die besluit om Afrikaans uit te faseer,” sê Visser.

Hy het verder benadruk dat Solidariteit steeds probeer vasstel op watter gronde die RPR sy besluit geneem het, aangesien die raad steeds weier om die nodige inligting te verskaf, en dit selfs ná die indiening van die Paia-versoek en óók nou die klag by die IR.

Visser sê Solidariteit se doel is om meertaligheid te bevorder en te beskerm, en om die waardigheid van die regsprofessie te handhaaf.

“Die uiteindelike doel van die klag is om respek vir die belange van alle betrokke partye te verseker, terwyl dit ook die grondwetlike beginsels van taaldiversiteit en toegang tot regte bevorder,” sê Visser.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel