
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Maatskaplike werkers in ontslagbeplanning
Deur Ané Janse van Rensburg
Die wêreld van ʼn maatskaplike werker is divers. Dit is gevul met spesialisvelde wat selfs die alledaagse maatskaplike werker se oë sal laat rek. Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk delf in al die spesialisvelde in om sodoende bemagtiging te bied.
Dr. Nelia Drenth, maatskaplike werkster én verlies- en routerapeut, het met Solidariteit gesels oor die veld van ontslagbeplanning en hoe ʼn maatskaplike werker daar gereed moet staan.
Wat beteken die term “ontslagbeplanning”?
Ontslagbeplanning in gesondheidsorg het ten doel om die tydperk van hospitaalverblyf so kort as moontlik te hou sonder om die pasiënt te benadeel, en om die dienste wat op die hospitalisasie volg te koördineer ten einde heropname te voorkom.
Wat is die maatskaplike werker se rolle en verantwoordelikhede spesifiek binne die raamwerk van hierdie gesondheidsorg?
Geneeskundige maatskaplike werkers fokus op die psigosiale funksionering van ʼn persoon met ʼn mediese diagnose, binne sisteemverband.
Hulle is ook betrokke met die assessering van die kliënt se psigososiale funksionering, met inagneming van die kliënt se sterkpunte, hanteringsmeganismes en ondersteuningsnetwerk ten einde die uitdagings aan te spreek.
Ons moet verder ook gepaste metodes van intervensie implementeer, om die kliënt te ondersteun om sy of haar ondersteuningsisteme te identifiseer.
Geneeskundige maatskaplike werkers ondersteun die kliënt en sy/haar naasbestaandes om die impak van die siektetoestand en behandeling te begryp en hoe hy/sy daarby kan aanpas.
Maatskaplike werkers in hospitale identifiseer en spreek die potensiële uitdagings wat met ontslag gepaard mag gaan aan om, in samewerking met die interdissiplinêre span, heropname te minimaliseer.
Geneeskundige maatskaplike werkers werk met verlies en moet dus ook geskool wees in traumahantering, sterwensbegeleiding en rouberaad.
Wat is die grootste uitdaging/s binne hierdie veld? Wat is jou “goue reëls’’ om hierdie uitdaging/s aan te pak?
Geneeskundige maatskaplike werkers moet kennis dra van die implikasies van ʼn siektetoestand vir die kliënt en sy/haar familie. Hy/sy moet in spanverband kan funksioneer. Een van die grootste struikelblokke is dat maatskaplike werkers in hierdie spesialisveld hulleself gedurig moet bemark t.o.v. hul professionaliteit onder die spanlede en die gemeenskap. Die goue reël sou wees om jouself so goed as moontlik te bekwaam met verdere studie, soos bv. die MA in “Social work in health care” wat deur UP aangebied word.
Het jy enige stukkies raad vir maatskaplike werkers binne hierdie veld?
Voortgesette opleiding, formele nagraadse studies, en die lees van toepaslike wetenskaplike artikels. My raad aan maatskaplike werkers in privaat praktyk sou wees om aan te sluit by ʼn organisasie soos SAASWIPP en om te registreer by die “Board of healthcare funders” ten einde te kan eis van mediese fondse.
Met watter wetgewing kry jy te doen in jou alledaagse praktyk?
Die Wet op Maatskaplike en Geassosieerde Werkers, Wet op Gesondheid, Geestesgesondheidswetgewing.
Skakel vandag nog in by Solidariteit en raak betrokke by die maatskaplikewerkersnetwerk. Dit is hier waar jy met inligting bemagtig kan word en deur ʼn gemeenskap ondersteun word.