
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
#RaakTuis by Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk
Jy as individu maak saak vir Solidariteit. Maar ʼn individu benodig ook die ondersteuning van ʼn netwerk waar jy kan woeker om jouself en jou vaardighede ten toon te stel en uit te brei. Solidariteit se beroepsnetwerke bied juis dít – ʼn beroepsgemeenskap waarbinne mense in dieselfde beroepe ʼn netwerk vorm.
ʼn Solidariteit-beroepsnetwerk is ʼn gemeenskap wat jou nie net in jou beroep versterk nie; dit is ook ʼn plek waar jy kan tuisvoel, met ander lede kan saamwerk en saam kan leer. Dit is gemeenskappe wat hulle daarop toespits om die beroep te beskerm, loopbaangeleenthede vir jong mense in die beroep te skep, as waghond om te sien na die belange van die spesifieke beroep en om met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom.
Maatskaplike werkers lewer ʼn noodsaaklike diens aan gemeenskappe. Om ʼn maatskaplike werker te wees is meer as om net elke dag by die werk op te daag. Dit verg passie, omgee, geduld en deursettingsvermoë. Dit is ook ʼn beroep wat heelwat uitdagings in die gesig staar waarvan skakeling met provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling maar een voorbeeld is.
Juis daarom is die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk in die lewe geroep as ʼn beroepsgemeenskap vir maatskaplike werkers om wag te hou oor die beroep, byvoorbeeld ten opsigte van wetgewing wat gewysig word en wat lede en die beroep kan benadeel; wat geleentheid aan lede bied om danksy voortgesette leer wat in Afrikaans aangebied word VPO-punte van gehalte te verwerf; én wat deur middel van ʼn adviesraad en mentorskappe help om die belangrikheid van die beroep te belig.
As maatskaplike werker is jy die lig in iemand se donkerte en dit is ons verantwoordelikheid om jou arms hoog te hou sodat jy jou roeping kan uitleef.
Maatskaplike werk kan ʼn ondankbare beroep wees wanneer jy byvoorbeeld die eerste een is wat gekritiseer word en die laaste een is wat erken word. Jy vermag wondere in ʼn polities gedrewe, ekonomies uitdagende omgewing waar nie almal gehelp wíl word nie.
Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk verstaan daardie uitdagings en het unieke voordele en opleidingsgeleenthede spesiaal vir jou ontwikkel waarmee ons jou daaglikse uitdagings meer draaglik wil maak.
As lid van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk het jy toegang tot die volgende voordele:
Werkbeskerming – Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek.
Voortgesette leer – Bereik jou volle potensiaal deur voortgesette leer wat onder meer moontlik gemaak word deur die kursusse wat op Solidariteit beskikbaar is.
Werkfasilitering – Doen aansoek en adverteer poste op Solidariteit se werkplekplatform van wêreldklas.
Netwerkgeleenthede – Netwerk met jou kollegas en gesels saam oor julle beroep en uitdagings.
Mentorskap – Tree as ʼn mentor op vir iemand wat die beroep betree, of maak gebruik van ʼn mentorskapgeleentheid wat die netwerk bied.
Maak jou ideale toekoms ʼn werklikheid saam met Solidariteit, jou beroepsvennoot. Klik hier vir meer inligting oor die maatskaplikewerkersnetwerk.