
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Mediasie nou verpligtend in die hof: Wat is die impak op regslui?
Mediasie is van nou af verpligtend vir alle siviele sake voordat ʼn hofdatum verkry kan word. Lees hier meer oor die impak van hierdie verandering op regslui en die regsberoep.
Deur Leré Nel
Op 14 April 2025 het ʼn belangrike verandering in die hofprosesse van die Gautengse afdeling van die hooggeregshof in werking getree: Mediasie (bemiddeling) is voortaan verpligtend vir alle siviele sake voordat ʼn saak op die verhoorrol geplaas kan word. Hierdie stap volg op ʼn amptelike direktief van die regter-president wat daarop gemik is om die onvolhoubare las op die siviele hofrolle te verlig.
Waarom hierdie direktief?
Die kapasiteit van die Gautengse hooggeregshof is al jare lank onder druk. Volgens die direktief is verhoordatums op die siviele rol reeds tot in 2031 uitgereik – ʼn skokkende sewe jaar vooruit. Dit beteken dat die reg tot toegang tot die howe, soos vervat in artikel 34 van die Grondwet, de facto ondermyn word. Tans word 85% van siviele sake op die oggend van die hofdatum geskik en afgehandel. Die hof se tyd word dus grotendeels opgeneem deur sake wat buite die hof besleg kon word. Daarom is daar beslis dat mediasie in alle siviele sake nou verpligtend is voordat daar vir ʼn hofdatum aansoek gedoen kan word.
Wat behels die direktief?
Regspraktisyns moet die volgende belangrike bepalings verstaan:
• Mediasie is nou ʼn voorvereiste vir verhoordatums: Geen verhoordatum sal aan ʼn siviele saak toegeken word sonder ʼn mediasieverslag wat ingevolge die nuwe Mediasieprotokol ingedien is nie.
• Twee fases van implementering:
1. ʼn Oorgangstydperk vanaf April 2025 tot 31 Desember 2026.
2. Volle implementering vanaf 1 Januarie 2027 – alle bestaande hofdatums ná hierdie datum word gekanselleer.
• Ooreenkomste buite die hof word aangemoedig: Indien daar nie ʼn mediasieverslag ingedien word nie, sal die saak van die rol verwyder word met ʼn geenkoste-bevel.
Voordele van verpligte mediasie
• Verligting van druk op die howe: Die hof se kosbare tyd kan nou eerder bestee word aan meer komplekse sake wat nie buite die hof besleg kon word nie.
• Toegang tot geregtigheid: Korter afhandelingstyd beteken dat ernstige, komplekse sake vinniger aandag van ʼn regter kan kry.
• Koste-effektief: Mediasie is in die meeste gevalle heelwat goedkoper as litigasie.
• Moontlike voordele vir die partye: Partye het meer beheer oor die uitkoms van die geskil as in ’n hofuitspraak. Mediasie is ʼn vinniger manier om kleiner geskille af te handel en partye hoef nie maande tot jare vir ʼn hofdatum te wag nie.
Moontlike nadele en bekommernisse
• Vertraging in ernstige sake: Die verpligting tot mediasie kan dalk ook sake vertraag wat wel dringend ’n regterlike uitspraak verg.
• Kwaliteit van mediasie: Die sukses van hierdie stelsel hang af van die bekwaamheid en neutraliteit van bemiddelaars. Omdat mediasie vir baie regspraktisyns ʼn redelike nuwe terrein is, kan daar moontlik onvoorsiene komplikasies opduik.
• Onkunde van bemiddelaars: Alhoewel bemiddelaars ʼn kursus moet voltooi om die beroep te kan beoefen, hoef hulle nie ʼn regskwalifikasie agter hulle naam te hê nie. Komplekse sake wat diepgaande regskennis verg, kan deur hierdie nuwe direktief benadeel word.
• Toename in administratiewe werk: Regslui moet nou addisionele verslagdoening en prosesse bestuur om aan die protokol te voldoen.
Wat beteken dit vir regslui?
Regslui kan verwag om ʼn groter fokus op alternatiewe geskilbeslegting (“alternative dispute resolution” of ADR in Engels) in die beroep waar te neem. Regslui moet nou vaardighede in mediasie, onderhandeling en alternatiewe geskilbeslegting ontwikkel om aan die voorpunt van hul beroep te bly. Hierdie verandering bied egter ook ʼn geleentheid: regspraktisyns kan hul kliënte beter tot kostedoeltreffende oplossings en ʼn vinniger regsproses lei. Die verwagte groter aanvraag na bemiddelaars is ook ʼn goeie geleentheid vir regspraktisyns wat dié beroep dalk aanloklik of interessant vind.
Die pad vorentoe
Vir regspraktisyns in Gauteng is daar geen keuse nie – die implementering is reeds aan die gang. Dit is belangrik om kennis te neem van die direktief en prosesse aan te pas soos nodig – anders loop jy die risiko dat jou kliënte se belange benadeel kan word of sake van die rol geskrap kan word. Bestudeer dus die Mediasieprotokol deeglik, lees op oor mediasie en ondersteun kliënte met deeglike advies oor die nuwe vereistes.
Bly ingeskakel by Solidariteit se Regsnetwerk om ingelig te bly oor belangrike gebeurtenisse in jou beroep, asook beskerming in die regsberoep.