loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-ondersoek-onwettige-rasregulasies-in-staatskoerant

Foto Krediet: Solidariteit

 Solidariteit ondersoek wetlikheid van rasregulasies in Staatskoerant

Solidariteit neem kennis van die regulasies oor gelyke indiensneming wat vandag onverwags in die Staatskoerant gepubliseer is. Alhoewel ons besig is om hierdie regulasies te bestudeer, lyk dit op die oog af prosedureel onwettig. Lees meer hieronder.


Hierdie voorskrifte oor hoe regstellende aksie toegepas moet word, is op geen tydstip, soos vereis word, aan ʼn openbare kommentaarproses onderwerp nie. Die publiek moet die geleentheid gegun word om kommentaar te lewer. Boonop lyk dit teenstrydig met die skikking wat Solidariteit met die regering bereik het en wat ook ʼn bevel van die hof gemaak is.
Die regulasies sit uiteen waarna ʼn werkgewer moet kyk wanneer hy ʼn regstellende-aksieplan wil saamstel. Hierdie regulasies strook egter nie met die skikking nie en verwys byvoorbeeld na die ekonomies aktiewe bevolking as amper die enigste oorwegende faktor vir regstellende aksie. Dit terwyl die skikking juis bepaal dat ʼn verskeidenheid faktore, insluitend ʼn werkgewer se operasionele vereistes asook die poel van beskikbare en bekwame kandidate, ook in ag geneem moet word in so ʼn oorweging.
Verder vereis die regulasies dat ʼn werkgewer aan sektorale teikens soos deur die minister verklaar, moet voldoen. Tot op hede is geen sulke sektorale teikens vasgestel nie, wat voldoening derhalwe onmoontlik maak. Solidariteit sal die regulasies deeglik bestudeer en daarna op ʼn gepaste plan van aksie besluit.

Klik hier vir die regulasies
.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel