loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
miljarde-vir-ngv-poste-laat-gapende-wonde-in-stelsel

Foto Krediet: Verskaf

 Miljarde vir NGV-poste laat gapende wonde in stelsel 

Miljarde rand se onvoorsiene uitgawes om werknemers van ’n nie-bestaande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te betaal, is nou Suid-Afrika, én Suid-Afrikaners, se voorland.
Juis dit waaroor Solidariteit vroeër gewaarsku het, is nou deur die minister van gesondheid, Joe Phaahla, bevestig. In sy geskrewe antwoord op ʼn vraag van die DA sê Phaahla die Departement van Gesondheid het reeds ongeveer R5 miljard aan die NGV toegewys – selfs al is net meer as R1 miljard volgens die nasionale begroting aan die NGV toegewys.
’n Groot deel van dié byna R5 miljard word juis gebruik om personeel vir die NGV in diens te neem – dit teen salarisse van meer as R1 miljoen per jaar. Daar is glo reeds meer as 28 mense teen hierdie hemelhoë salarisse in NGV-spesifieke poste aangestel.
Solidariteit het vroeër vanjaar ’n hofaansoek teen die departement gebring weens die voortydige advertering van NGV-poste. Die aansoek is sonder koste van die hand gewys.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), word daar nou roekeloos geld vir dié poste rondgegooi sonder dat die begroting daarvoor bestaan.
“Daar is immers ’n goeie kans dat die NGV nooit die lig sal sien nie, en minister Phaahla weet dit. Bykans niemand is ten gunste daarvan nie én die tesourie het al telkemale laat blyk dat daar nie geld daarvoor is nie. 
“Dit is was ook om sulke wanbesteding te verhoed dat Solidariteit vroeër vanjaar in die hof was oor hierdie NGV-poste,” sê Du Buisson.
Du Buisson is verder daarvan oortuig dat hierdie voortydige uitrol van NGV-planne slegte gevolge sal hê.
“Die Departement van Gesondheid mors miljarde wat gebruik kon word om werklike gesondheidsorg in die openbare sektor te bied en te verbeter. Daar bestaan ʼn ernstige behoefte vir verbetering. 
“Dit gebeur alles ter wille van ’n stelsel wat geensins ons land se gesondheidsorg sal verbeter nie. Die regering dra eenvoudig nie landsburgers se belange op die hart nie en hierdie kwessie is net nog ’n bewys daarvan,” sê hy.
Hy wys daarop dat ’n 2023-kosteverslag oor die NGV beraam het dat minstens R660 miljard in die begroting nodig sal wees vir die stelsel om in werking gestel te word. 
Solidariteit gaan intussen voort om elke afdeling van die NGV deur middel van die howe, asook met openbare druk, te beveg. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel