Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Raskwotas kos beste kandidaat Valke-pos; SAPD-skandes met bevorderings hoop op
– Sien die KVBA-uitspraak waarna die verklaring verwys hier aangeheg.
Solidariteit het binne enkele dae nóg ʼn gunstige KVBA-uitspraak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekom oor sy bevorderingspraktyke – dié keer nadat ʼn kandidaat wat verreweg die beste in die onderhoudproses gevaar het, weens die toepassing van raskwotas oor die hoof gesien is.
Die KVBA het bevind die SAPD se behandeling van Solidariteit-lid kapt. Natasha Steyn kom weereens op onbillike arbeidspraktyk neer en het die polisiediens gelas om haar R543 672 – twaalf maande se salaris – as vergoeding te betaal.
Hierdie koste sal weereens deur die belastingbetaler gedra moet word.
Steyn het om ʼn luitenant-kolonelpos by die Valke aansoek gedoen. In die onderhoudproses het sy met 82,66% die hoogste punt van al die kandidate behaal, waarna die provinsiale paneel vir die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke haar eenparig vir die pos aanbeveel het.
Die nasionale modereringskomitee het dié aanbeveling egter omgekeer en ʼn kandidaat wat slegs 71% behaal het, aangestel.
Die rede wat die SAPD hiervoor aangevoer het, was oorwegings wat met nasionale vereistes vir gelyke indiensneming – dus raskwotas – verband hou.
Theunis van Staden, koördineerder vir die SAPD en openbare sektor by Solidariteit, sê hierdie aangeleentheid verdien om as ʼn skandaal hanteer te word.
“Die Valke as die eenheid wat georganiseerde en ernstige kommersiële misdaad en korrupsie moet ondersoek, sit tans met ʼn ontstellende 2 515 polisiëringsvakatures. Ongeveer 1 500 daarvan is ondersoekposte waar ervare ondersoekers, soos kapt. Natasha Steyn, benodig word.
“Hier kom sy as die beste kandidaat en kry 82,66%, sodat die paneel haar eenparig aanbeveel. ʼn Kandidaat met 71% kry nietemin die pos omdat die SAPD ʼn rasse-uitkoms wil bereik en verkies om Steyn, as ʼn wit vrou, op grond van haar velkleur te verwerp.
“Dít is wat gebeur wanneer raskwotas belangriker as meriete word,” sê Van Staden.
Die KVBA het in sy uitspraak uitdruklik daarop gewys dat artikel 15(3) van die Wet op Billike Indiensneming rigiede kwotas verbied. Die uitspraak meld dat ʼn billike indiensnemingsplan nie as ʼn absolute versperring teen die bevordering van iemand uit ʼn nie-aangewese groep gebruik mag word nie – ooreenkomstig die skikking oor raskwotas in die werkplek wat die regering in 2023 met Solidariteit bereik het.
“Dit is presies die gevaar waaroor Solidariteit al jare lank waarsku. Ras word ʼn blokkie wat afgemerk moet word, en meriete, ervaring en uiteindelik dienslewering moet daarvoor plek maak.
“In ʼn polisiediens wat veronderstel is om misdaadvoos Suid-Afrikaners teen gewelddadige misdaad te beskerm, is dit nie net onbillik teenoor werknemers nie, maar uit en uit roekeloos,” sê Van Staden.
Die uitspraak volg enkele dae nadat Solidariteit nóg ʼn gunstige KVBA-uitspraak oor ʼn SAPD-bevorderingsproses aangekondig het. In dié saak is bevind dat kapt. Christiaan du Plessis onbillik benadeel is in die bevorderingsproses vir ʼn stasiebevelvoerderspos.
Solidariteit glo nie die groot aantal soortgelyke uitsprake kan enigsins langer as geïsoleerde foute of administratiewe glipse afgemaak word nie.
Daarom eis Solidariteit persoonlike aanspreeklikheid van paneellede, modereringskomitees en ander besluitnemers wat verantwoordelik is vir bevorderingsbesluite wat as onbillik of irrasioneel bevind word.
“Dit kan nie aanhou werk soos ʼn speletjie met ander mense se geld en loopbane nie. Wanneer ʼn paneel of besluitnemer die reëls verontagsaam, verloor die polisielid jare se loopbaanvordering en betaal die belastingbetaler die skadevergoeding.
“Die mense wat die besluit geneem het, stap intussen eenvoudig weg. Dit moet verander. Solidariteit sal voortgaan om hierdie sake aan te pak, maar ons wil ook sien dat die SAPD teen die besluitnemers agter hierdie wanpraktyke optree. Iemand moet uiteindelik aan die pen ry,” sê Van Staden.