loading
avatar
Artikels
6 uur gelede
onderwysers-wil-werk-maar-27000-poste-le-vakant

Fotokrediet: OkayDeer

Onaanvaarbaar! Onderwysers wíl werk, maar 27 000 poste lê vakant

Robin-Lee Maré

Meer as 27 000 vakante onderwysposte, terwyl gekwalifiseerde onderwysers werk soek, dui op ʼn ernstige wanbalans in Suid-Afrika se onderwysstelsel en ʼn staat wat nie die nodige hulpbronne beskikbaar stel om skole behoorlik van personeel te voorsien nie.

Volgens syfers wat die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, bekendgemaak het, was 27 092 onderwysposte teen einde Junie landwyd vakant – sowat 7% van alle onderwysposte in Suid-Afrika. Die Oos-Kaap het met 5 730 die meeste vakante poste, gevolg deur KwaZulu-Natal met 4 700 en Gauteng met 3 994.

Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, sê die omvang van die vakatures is skokkend, veral teen die agtergrond van oorvol klaskamers en onderwysers wat reeds onder enorme werksdruk gebuk gaan.

“Dit is moeilik om te aanvaar dat meer as 27 000 poste vakant staan terwyl daar terselfdertyd gekwalifiseerde onderwysers is wat graag wil werk.

“Die probleem is dus nie bloot ʼn tekort aan mense wat wil onderrig nie. Die staat slaag nie daarin om die beskikbare onderwyskapasiteit behoorlik te benut en skole van genoeg hulpbronne te voorsien nie,” sê Botha.

Solidariteit se eie navorsing wys ook op ʼn kommerwekkende teenstrydigheid. Daar is ʼn behoefte aan onderwysers in skole, maar terselfdertyd sukkel talle gekwalifiseerde onderwysers om poste te vind.

Volgens Botha dra ongevulde poste regstreeks by tot groter klasse, ʼn swaarder werkslas en minder individuele aandag aan leerders.

“Elke vakante pos plaas bykomende druk op die onderwyser wat reeds voor ʼn vol klas staan. Uiteindelik betaal onderwysers én leerders die prys wanneer die staat nie sy verantwoordelikheid nakom nie.”

Botha meen die departement van basiese onderwys en provinsiale onderwysdepartemente moet dringend vasstel waarom soveel poste vakant bly en seker maak beskikbare poste word so gou moontlik met geskikte, gekwalifiseerde onderwysers gevul.

“Ons kan nie aan die een kant praat oor ʼn onderwyskrisis en aan die ander kant duisende poste vakant laat staan nie. Onderwysers is bereid om te werk. Die staat moet hulle in staat stel om dit te doen,” sê Botha.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel