loading
avatar
Artikels
5 uur gelede
solidariteit-steun-flysafair-transaksie-maar-werksekerheid-bly-n-moet

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit steun FlySafair-transaksie, maar werksekerheid bly ʼn móét

Robin-Lee Maré

Solidariteit steun Harith Aviation se voorgenome verkryging van SA Air Holdings, die houermaatskappy van FlySafair, mits geen werknemer sy werk weens die transaksie verloor nie.

Die Mededingingstribunaal het verlede week gesit en mondelinge vertoë aangehoor. Die Mededingingskommissie het reeds in Julie aanbeveel dat die samesmelting, onderhewig aan sekere voorwaardes, goedgekeur word. CemAir het ook vertoë gelewer voordat die tribunaal ’n finale besluit neem.

FlySafair is tans Suid-Afrika se grootste binnelandse lugredery.

Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, wat talle werknemers in die lugvaartbedryf verteenwoordig, was werksekerheid van die begin af die vakbond se belangrikste oorweging.

“Wanneer ons van ’n samesmelting soos hierdie bewus word, tree ons so gou moontlik met die werkgewer in gesprek om vas te stel wat die gevolge vir werknemers kan wees. Ons eerste vraag is of enige poste weens die transaksie in gevaar is,” sê Cronjé.

Harith het aanvanklik aangedui dat geen samesmeltingsverwante afleggings beplan word nie. Solidariteit het egter ’n voorbehoud in die dokumentasie raakgesien waarvolgens die omskrywing van samesmeltingsverwante afleggings nie noodwendig vrywillige skeidingspakkette ingesluit het nie.

Solidariteit het gevolglik aangedring op ’n duidelike onderneming waarvolgens geen vorm van samesmeltingsverwante posverliese deel van die transaksie sal wees nie.

“Harith het daarna bevestig dat geen samesmeltingsverwante afleggings beoog word nie, ook nie deur vrywillige prosesse nie. Ons steun die transaksie op dié grondslag,” sê Cronjé.

Solidariteit wil hê die tribunaal moet dié onderneming uitdruklik as ’n voorwaarde vir die transaksie stel en seker maak die beskerming sluit ook vrywillige skeidingsprosesse in.

Langtermynbenadering skep vertroue

Volgens Cronjé hou enige oorname die risiko in dat ’n nuwe aandeelhouer korttermynopbrengste bo langtermynbeleggings in personeel, opleiding, veiligheid, vlootontwikkeling en uitbreiding kan stel.

Solidariteit het egter reeds twee keer voor die tribunaalverrigtinge met Harith vergader. Harith het tydens dié gesprekke aangedui sy planne vir FlySafair is op die lang termyn gerig.

“FlySafair is ’n suksesvolle lugredery wat die afgelope paar jaar ’n beduidende deel van die mark verower het.

“Harith vertrou die bestaande bestuur en het aangedui hulle beoog nie om onnodig met ’n suksesvolle bedryfsmodel in te meng nie. Dit stem ons positief,” sê Cronjé.

Die sterker plaaslike eienaarskap wat uit die transaksie kan volg, is volgens Solidariteit ook ’n positiewe ontwikkeling.

“Ons meet transformasie nie in die eerste plek aan ras nie. Vir ons gaan dit oor ’n volhoubare onderneming wat goeie werk skep en behou. Plaaslike eienaarskap, die beskerming van poste en die moontlikheid van verdere groei is almal positiewe uitkomste.”

Mededinging ook onder die vergrootglas

Die tribunaal het ook vertoë van CemAir oor die moontlike uitwerking van die transaksie op mededinging aangehoor. Die Mededingingskommissie het onder meer kommer oor moontlike mededingingsvoordele by Lanseria Internasionale Lughawe geopper.

Cronjé sê Solidariteit se primêre mandaat bly die beskerming van werknemers, maar die vakbond neem kennis van die mededingingskwessies en moontlike voorwaardes om billike toegang tot inligting vir ander lugrederye te verseker.

Vir Solidariteit sal die uiteindelike sukses van die transaksie gemeet word aan volhoubare groei én die mense wat dié groei moontlik maak.

“’n Suksesvolle lugredery wat uitbrei, mense in diens hou en die ekonomie aan die beweeg hou, is vir ons werklike transformasie. Dit is die maatstaf waarvolgens ons hierdie transaksie beoordeel en waarom ons dit steun,” sê Cronjé.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel