Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit oorweeg regstappe teen DKD oor Vrystaatse G4S-werknemers
Solidariteit berei regstappe teen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) voor indien die departement nie dringend uitvoering gee aan ’n arbeidshofbevel waarvolgens voormalige G4S-werknemers by die Mangaung- korrektiewe sentrum op 1 Julie vanjaar outomaties na DKD oorgeplaas moes word nie.
Die arbeidshof het reeds op 30 April die DKD se oorname van die sentrum, nóú die Grootvlei Maksimum Korrektiewe Sentrum, beslis as deel van ’n formele oordrag ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Daarvolgens moet die betrokke werknemers met behoud van hul diensjare en bestaande regte na DKD oorgeplaas word.
DKD kon sedertdien nie daarin slaag om die bevel opgeskort te kry nie. Die arbeidshof het boonop op 17 Augustus die DKD se aansoek om kondonasie vir sy laat aansoek om verlof tot appèl geweier en bevind die voorgenome appèl het geen redelike vooruitsigte op sukses het nie.
“Die hof se opdrag is tog duidelik. Dit staan die DKD vry om die uitspraak deur die korrekte regsprosesse te betwis, maar dit kan nie bloot geïgnoreer word terwyl werknemers en hul gesinne die prys daarvoor betaal nie.
“’n Hofbevel is nie ’n voorstel wat die staat kan uitvoer wanneer dit hom pas nie,” sê Theunis van Staden, koördineerder van die openbare sektor by Solidariteit.
Volgens Solidariteit moet bykans 200 voormalige G4S-werknemers steeds sonder salarisse of sekerheid oor hul diensstatus klaarkom.
Sommige werknemers is gedwing om vir hulle eie poste aansoek te doen, maar toe nie aangestel nie. Ander is met veranderde diensvoorwaardes en sonder behoorlike erkenning van vorige diensjare aangestel.
Werknemers wat intussen ander werk bekom het, sukkel steeds om onder meer pensioen- en diensadministrasie af te handel.
“Die gevolge hiervan is nie bloot administratief nie. Hier is mense wat sonder salarisse sit, wie se mediese dekking en pensioenbelange geraak word, en wat nie weet wat môre vir hulle inhou nie. Die DKD en G4S se regstryd kan nie op werknemers en hul gesinne afgewentel word nie,” sê Van Staden.
Die situasie skep ook kommer oor die funksionering van die maksimum sekuriteitsfasiliteit. Volgens die parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het die DKD altesaam 310 van die 495 voormalige G4S-werknemers deur sy werwingsproses aangestel, terwyl 309 poste by die sentrum steeds vakant was.
“Dit maak eenvoudig nie sin dat ervare korrektiewe personeel sonder werk gelaat word terwyl honderde poste by ’n maksimum sekuriteitsfasiliteit vakant is nie.
“Buitendien kan ’n werwingsproses nie ’n statutêre oordrag vervang wat reeds deur die hof bevestig is nie,” sê Van Staden.
Solidariteit het ’n dringende vergadering met die minister, die Nasionale Kommissaris en gemagtigde DKD-amptenare voor 1 September versoek.
Die vakbond eis duidelikheid oor die DKD se uitvoering van die hofbevel en die herstel van werknemers wat hierdeur geraak is se salarisse, voordele en dienskontinuïteit.
Solidariteit het ook kennis geneem van gesprekke tussen die DKD en Popcru oor die aangeleentheid en beklemtoon dat geen ooreenkoms met ’n ander vakbond die regte van Solidariteit-lede kan bepaal sonder dat Solidariteit namens sy lede daaroor geraadpleeg word nie.
“Ons voorkeur is steeds dat die DKD die hofbevel uitvoer en dat hierdie werknemers se posisie dringend reggestel word. Indien dit nie gebeur nie, is ons regspan gereed om die nodige stappe te doen. Ons lede het lank genoeg vir ander partye se regsgeskille betaal,” sê Van Staden.