
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Moeilike tye kom in SA, maar iemand bou reeds 30 jaar lank aan ʼn vangnet
Deur Pieter Jordaan
Suid-Afrika is ʼn wonderlike, wonderlike plek.
Maar as jy die geweldige impak van sy verskeidenheid probleme wil ontken is jy óf naïef (dit is die mooi word), of bloot moedswillig.
Met die moedswilliges moet die vraag altyd wees: Wat baat hulle by sulke ontkenning?
Die naïewes kan moontlik gehelp word, sou hulle bereid wees om raad te aanvaar.
By die meeste Suid-Afrikaners is daar tog sinvolle konsensus dat dit, tussendeur al die voorregte wat ons beleef om hier te woon en werk, maar broekskeur gaan. Die toestand en swak vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie skets ʼn donker prentjie.
Gelukkig het Solidariteit, soos talle ander helderdenkendes in die land, die huidige toestand sien kom.
As politieke minderheid in ons ‘demokrasie’ was daar ongelukkig min wat Afrikaners by die stembus kon doen, maar ook dit is deur ʼn groep leiers binne Afrikanergeledere voorsien.
Daar is begin bou aan gemeenskapsinstellings wat die storm in die toekoms sou kon oorleef.
Soos wat die staat oor ʼn tydperk van 30 jaar weens korrupsie en wanbestuur inmekaar geval het en die belastingbetaler gewurg is om die bal aan die rol te hou, was die koers wat die land in beweeg het duidelik.
Om dit raak te sien was egter nie die ware kuns nie. Om iets daaraan te begin dóén, het wel groot vaardigheid en wysheid geverg.
En hier staan ons nou, in die toekoms. Drie dekades van ANC-plundery het sy tol geëis. Infrastruktuur verbrokkel en die staat is bankrot, terwyl internasionale welwillendheid opgedroog het.
Daar is sprake van sanksies en selfs nóú volhard die ANC met ideologies-besmette beleid. Hy beloof sy onbevoegde kaders al wat ʼn gesagsposisie is, en verdring al wat wit en Afrikaans is met amptelike beleid.
Maar ook dit was voorspelbaar.
En daarom is Solidariteit gebou vir ʼn tyd soos nou. Solidariteit se aanbod van 2025 is nie ʼn oornag-kitsoplossing geskep uit ʼn posisie van paniek, vrees en reflektiewe reaksie nie. Dit is ʼn weldeurdagte plan gegrond op jare se erkenning van die werklikheid en ʼn kalm, verantwoordelike soeke na realistiese oplossings daarvoor.
Op 24 Julie 2025 het Solidariteit se Nasionale Raad besluit om ʼn Beskermingsplan te steun. Dit is ʼn belangrike oomblik. Hierdie is ʼn omvattende plan vir werknemers in Suid-Afrika, om dit wat tans aan die gang is én dit wat nog moet kom, aan te spreek.
Dit spreek rassewette en diskriminasie, werkverlies en werkloosheid, ekonomiese agteruitgang, plaaslike en internasionale vervreemding waar daar eens nog hulp was ensovoorts aan.
Dit is werklikhede waarvoor ons voorbereid moet wees. Solidariteit-lede kan egter weet dat hulle aan ʼn organisasie behoort wat met daardie vrae gestoei het en ʼn antwoord gevind het.
Dit verskyn alles in die Beskermingsplan waarmee Solidariteit deur plaaslike en internasionale druk, impakvolle veldtogte, regsaksie en arbeidsregskennis en deur die skep van ʼn werkfasiliteringsplatform en beroepsnetwerke ʼn vangnet bied.
Solidariteit bied ook antwoorde met die bou en uitbrei van opleidingsinstellings. Universiteite, kolleges en skole is ons én ons kinders se voertuig vir die toekoms, selfs wanneer die staat om ons verbrokkel.
Solidariteit hou koers en sê dit is nie nodig om moed te verloor nie, want al is die vooruitsigte sleg as daar na die trajek van ʼn ANC-beheerde staat gekyk word, is die ANC nié Suid-Afrika nie.
Solidariteit se lede weet hulle behoort aan ʼn “Ons sal self”-gemeenskap, wat oor ʼn bloudruk beskik waar geen werklikheid ontken of ontduik word nie.
Dit laat ons toe om steeds, met nederige dankbaarheid en deur genade van Bo, te bly en te bou aan hierdie wonderlike, wonderlike plek waarin ons en ons kinders só bevoorreg is om te kan woon en werk.
Kyk hier na Solidariteit se pas vrygestelde Beskermingsplan.