
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ope brief aan Elmar Conradie, hoofuitvoerende bestuurder van FlySafair
27 Julie 2025
Beste Elmar
Die vlieëniers van FlySafair, wat ook lede van Solidariteit is, staak op die oomblik by jou maatskappy. Jy is die uitvoerende hoof van FlySafair en ek van Solidariteit. Jy wil hê die vlieëniers moet goed vir jou werk, en ek wil hê hulle moet goed kan werk. Met “goed” bedoel ek ook “betekenisvol.”Ons voel albei sterk oor werk, maar ons fokus verskil.
Ek is nie direk by die onderhandelinge betrokke nie, maar ek is goed ingelig. Jy is ook nie direk daarby betrokke nie. Hierdie ope brief is doelbewus nie deel van die onderhandelinge nie, maar ʼn nota tussen ons twee.
Solidariteit-lede staak slegs in geval van die hoogste uitsondering. Hulle is meestal in hoër posvlakke en staak nie sommer nie. In beginsel hou ek nie van ontwrigting van die werkplek nie. Hierdie geval is egter so ʼn hoogs uitsonderlike geval.
Ná week een se staking en onderhandelinge en ʼn nuwe aanbod van FlySafair stem 90% van ons lede om steeds met die staking voort te gaan. In ons wêreld is dit ongekend. Die voorste arbeidsverhoudingekenner in Suid-Afrika en een van die voorste onderhandelaars, Gideon du Plessis, lei ons span. Hy bevestig dat dit vir ons ʼn vreemde verskynsel is. Daar is iets groots fout by FlySafair.
Daar is ʼn totale vertrouensbreuk tussen die lugvaartmaatskappy en sy sleutelpersoneel. Ek het my doktorsgraad in Arbeidsverhoudinge verwerf en my onderwerp was vervreemding. Ek kan vir jou sê dat die vervreemdingsvlakke van jou vlieëniers toksies is – dat 90% van mense, wat vanweë hul uitsonderlike vaardighede en die moeilikheidsgraad van hul beroep in die hoë-inkomstekategorie val, en wil bly staak, is nie normaal nie.
Jy sal die moeilike taak hê om die vertroue ná die staking te moet herstel. Die beste manier om dit te doen is om nóú na jou vlieëniers te luister.
Die vlieëniers wou, op ʼn manier wat vir hulle self vreemd is, hul frustrasie toon deur ʼn dag te staak. FlySafair luister toe nie, maar straf hulle deur hulle vir ʼn week, en nou vir nóg ʼnweek, uit te sluit. Hulle voel tereg uitgesluit. Hulle wou hul hart wys, en toe word hul sakke gestraf. Hulle is gedreig en geboelie. Hulle gaan groener weivelde soek, en FlySafair gaan nie die groener weivelde vir nuwe vlieëniers wees nie.
Ek wil hê FlySafair moet sommer hoog vlieg. Ek wil ook hê dat die maatskappy goeie winste moet toon. Julle het tereg ook rekordwinste in 2024 behaal – tot so ʼn mate dat jy en die finansiële hoof, volgens mediaberigte R90 miljoen se aandele verkoop en in jul sakke gesteek het. Volgens mediaberigte het R1,31 miljard uit die land gevloei en jul Ierse aandeelhouers se sakke bult. Ek dink dit het dalk té goed begin gaan en julle sien alles in syfers. Julle personeel, en in hierdie geval die vlieëniers, is nie somme nie, maar mense – mense met families, gesinne en gesinsbehoeftes. Julle verdien miljoene en hulle vra ʼn naweek af.
Aanvanklik het ʼn looneis van 10% onbillik geklink, tot ek gesien het wat die salarisse voor Covid-19 was en besef het dat nog nie al die vlieëniers se salarisse tot voor die Covid-19-vlakke herstel is nie; tot ek gesien het wat plaaslike mededingers se salarisse is; en tot ek gesien het wat jul internasionale mededingers hul vlieëniers betaal. Die vlieëniers is glad nie onbillik nie.
Hier lê die probleem: Volgens Boeing se Pilot and TechnicianOutlook vir 2025 gaan die lugvaartbedryf 660 00 nuwe vlieëniers wêreldwyd benodig, en in Afrika alleen gaan 23 000 benodig word. Chris Broom, visepresident vankommersiële opleidingsoplossings by Boeing Global Services, sê lugvaartverkeer het ekonomiese groei verbygesteek. Hy sê die globale vliegtuigvloot moet uitbrei om aan die vraag te voldoen.
Vlieëniers is dus gesog en gaan meer gesog word. Die situasieis soos die mark vir piesangs. Hoe groter die tekort, hoe hoër die prys. Daar is ʼn tekort aan vlieëniers en dit gaan ál groter word. Dié tekort gaan bo inflasie styg, en hul salarisse ook. Dit is ʼn markwerklikheid. Vlieëniers is globaal mobiel.
Hoe meer ek met die vlieëniers gepraat het, hoe meer het ek iets anders ontdek. Hulle groot dryfveer is nie geld nie. Natuurlik wil hulle billik vergoed word. Hulle groter dryfveer is die nuwe rooster wat hulle werk-gesin-balans en rustyd ontwrig. Hulle wil gebalanseerde werk hê en FlySafair het hulle dit ontneem.
Hulle vra een naweek ʼn maand af. Hulle vra ʼn meer voorspelbare rooster wat dit vir hulle moontlik maak om gesinsaktiwiteite vooruit te kan beplan. Die nuwe rooster is eensydig verander. Nou kry die vlieëniers op die 20ste van die maand die volgende maand se rooster wat deur algoritmes bepaal wanneer gevlieg word. Dit kan beteken dat hulle belangrike familieverpligtinge misloop en dalk ʼn uitputtende skofpatroon kry en in ʼn uitgeputte toestand moet vlieg.
Die FlySafair-onderhandelaars het dit nie raakgesien nie. Hulle het die somme gesien en nie mense nie. Al wat die vlieëniers wil wees, is mense – mense waarsonder ʼn lugredery nie kan bestaan nie.
FlySafair kan nie internasionaal met salarisse meeding nie. Die tekort van vlieëniers is net te groot. Waarmee kan FlySafair meeding? Met ʼn betekenisvolle werk, ʼnvergoedingspakket wat groter is as net ʼn salaris. Bied iets anders as globale maatskappye.
Hierin het FlySafair klaaglik misluk. Die veranderde skofrooster en die aanbod op die tafel het FlySafair se totale aanbod, buiten salarisse verswak. FlySafair is nou minder mededingend. In ʼn hoogs mededingende lugvaartomgewinggaan dit tot ʼn uitvloei van vlieëniers lei. Dit gaan rampspoedige gevolge hê, wat sleg gaan wees vir die maatskappy, sy werknemers en die land.
My oproep aan jou is om in die onderhandelinge in te gryp. Moenie somme sien nie, maar mense. Wees internasionaal mededingend met ʼn totale vergoedingspakket wat beter is as net salaris. Doen julle dit nie, gaan dit wel in somme omsit, somme waarvan julle nie gaan hou nie.
In woorde wat jy sal verstaan – jy moet die stakingsvliegtuignou veilig laat land. Gee die vlieëniers wat hulle vra en wat goed is vir hulle, die maatskappy en die land.
Vriendelike groete
Dr. Dirk Hermann
Hoof- uitvoerende beampte: Solidariteit